Potgooi – Nuus en Weer – 30 Oktober 2018

Potgooi – Nuus en Weer – 30 Oktober 2018

Potgooi – Nuus en Weer – 30 Oktober 2018

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-10-30.092805

Kennisgewing

1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.

2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.

3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

Die nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa, FM stereo & FM Live Gospel Active en Radio CDA

Nuus Hooftrekke

  • Rampbestuur in die Wes-Kaap sê brandbestryding het regdeur die nag voortgeduur waar brande voortwoed in die Karatara-omgewing van Knysna. Minstens 7 mense, onder wie twee kleuters en ‘n baba is in die brand dood. Die brand het verlede week aan die voet van die Outeniekwaberge uitgebreek en versprei na George en Karatara wat gister tot ontruimings gelei het. ‘n Woordvoerder vir Rampbestuur, James Brent-Styan sê die toestande op die grond is uiters moeilik en die sig swak, wat beteken dat lugsteun nie ingespan kan word nie. Die polisie in die Suid-Kaap het bevestig dat nog ‘n persoon in die brande by Karatara naby Knysna dood is wat die dodetal nou op agt te staan bring. ‘n Polisiewoordvoerder, Malcolm Pojie sê een van die oorledenes is ‘n swanger vrou. Intussen bemoeilik ‘n stormsterkwind brandbestryders se pogings om die brand aan die Tuinroete te blus, ondanks ligte reën wat oor die gebied uitgesak het. Die Robinsonpas tussen Mosselbaai en Oudtshoorn is vroeër vir verkeer gesluit, asook die Outeniekwa- en Montagu-passe. Dit brand ook by Riversdale, Tsitsikama en by Ladismith in die Klein Karoo.  
  • Die SAUK gaan moontlik 981 permanente personeellede aflê en die kontrakte van duisend-200 vryskutpersoneel gaan nie hernu word nie. Die Openbare Uitsaaier het ‘n kennisgewing aan alle personeel uitgereik oor sy afleggingsplanne om kostebesparing te bewerkstellig. Daar word voorsien dat die herstrukturering personeel op alle vlakke in die SAUK sal raak. Die korporasie sê dit sal ‘n besparing van sowat 440 miljoen rand per jaar op sy salarisrekening beteken.
  • Die SAUK gaan ook die Arbeidshof nader in ‘n poging om meer as 60 miljoen rand terug te kry wat die openbare uitsaaier kwyt is weens onreëlmatige aanstellings en bevorderings. Die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se verslag van 2014, getiteld “When Governance and Ethics Fail” het die aanstellings en bevorderings as ongeldig verklaar. Die Korporasie sê hy is in die proses om vas te stel of daar tussen Augustus 2015 en einde Maart verlede jaar moontlik nog onreëlmatige aanstellings, bevorderings en salarisverhogings was. Die SAUK se Groep Uitvoerende Hoof vir Menslike Hulpbronne, Jonathan Thekiso, sê die openbare uitsaaier moet dringend sy finansiële volhoubaarheid regstel.
  • Die kommunikasievakbond, BEMAWU, sê hy is teleurgesteld dat bykans duisend permanente werknemers van die SAUK dalk hulle werk kan verloor en meer as duisend vryskutwerkers se kontrakte waarskynlik nie hernu gaan word nie. Die president van Bemawu, Hannes du Buisson, sê dit is slegte nuus om voor die einde van die jaar te ontvang. Hy sê die vakbond was van mening dat die uitsaaier eerder sou besluit om mense te herontplooi as om hulle af te lê.
  • Die vakbond, die Communication Workers Union, het die SAUK ook skerp veroordeel oor die aankondiging oor moontlike afleggings. Die president van die CWU, Aubrey Tshabalala, sê hulle is geskok oor dié wending omdat daar op die laaste vergadering met die bestuur nog aangedui is dat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie by die kwessie gaan ingryp.
  • Die vlakke van damme wat Kaapstad van water voorsien, het met sowat ‘n persent in die laaste week gedaal weens die hittegolf. Die damvlakke is tans net onder 75 persent. Die stad sê die nul-komma-nege persent daling is hoofsaaklik weens verdamping as gevolg van die warm en droë weerstoestande. Die gemiddelde daaglikse waterverbruik in die stad het ook gestyg met 37 miljoen liter tot 593 miljoen liter. Die stad het inwoners gevra om waterbesparing voorop te stel en nie tuine met tuinslange nat te lei nie, nie swembaddens op te vul nie, en nie voertuie met drinkwater te was nie.
  • Die Nasionale Vervolgingsgesag het die Prioriteitsmisdaad Ondersoek-en Vervolgingseenheid opdrag gegee om alle ondersoeke te bespoedig, wat voortspruit uit die destydse Waarheids- en Versoeningsproses. Dit is vandag 20 jaar gelede dat die WVK die finale verslag aan oudpresident Nelson Mandela oorhandig het. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu was die voorsitter van die kommissie, wat twee-en-‘n half jaar lank getuienis aangehoor het oor menseregtevergrype. ‘n Woordvoerder van die NVG, Luvuyo Mfaku, erken dat ‘n tekort aan vervolgingskapasiteit daartoe bygedra het dat min sake verhoor is. Mfaku sê die huidige hoof van die Valke wil dit afgehandel hê sodat families, soos in die Timol-saak, afsluiting kan kry.
  • Voormalige staatshoofde van die regering sowel as vooraanstaande persone op die vasteland vergader by die Fundi Onderwysforum in Sandton, Johannesburg. Daar word verwag dat hulle oplossings sal voorstel vir die uitdagings waarmee die onderwyssektor te kampe het. Onder diegene wat die forum bywoon, is die voormalige president, Kgalema Motlanthe, die oudpremier van Kenia, Raila Odinga, die voormalige Tanzaniese president, Jikaya Kikwete, die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela en die sakevrou, Wendy Luhabe. Volgens die uitvoerende hoof van Fundi, Amasi Mwela, glo hy dat onderwys en ‘n lewenslange leerproses die sleutel is tot sukses ten opsigte van die uitdagings en geleenthede in Afrika.
  • Individuele belastingbetalers het sowat 24 uur oor om hulle persoonlike belastingopgawes in te dien voordat vanjaar se belastingseisoen môre ten einde loop. Die spertyd geld vir individuele belastingbetalers en dié voorlopige belastingbetalers wat hulle opgawes by takke van die Inkomstediens indien. Voorlopige belastingbetalers wat hulle opgawes elektronies indien, het tyd tot 31 Januarie om dit te doen. Die elektroniese stelsel is in staat om groot volumes te hanteer wat op die laaste dag tot 150-duisend opgawes kan styg.
  • ‘n Aardbewing het dele van Nieu Seeland se noordelike eiland geruk waar die Britse koninklikes, prins Harry en sy vrou Megan op besoek is. Die aardbewing – met ‘n seismiese meting van ses komma twee – het tot gevolg gehad dat parlementslede moes verdaag en as voorsorgmaatreël skuiling soek. Geen berigte van groot skade is ontvang nie. Die skudding is ook in Auckland gevoel waar die koninklikes ‘n skool besoek het. Volgens die land se eerste minister, Jacinda Ardern, is die aardbewing oor die sentrale dele van Nieu Seeland gevoel, hoewel die middelpunt van die skudding oos van die kusdorp Waitara was, op ‘n diepte van meer as 200 kilometer.
  • Die uittredende Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, gaan die hof nader, vermoedelik voor môre, om haar naam in ere te herstel. De Lille het die Kaapstadse Persklub gister toegespreek oor haar planne om twee verslae van die regsfirma Bowman Gilfillan op hersiening te neem. Sy sê die twee verslae is strydig omdat die een verslag haar kwytskeld van enige ongerymdhede, terwyl die tweede een beweer sy kan strafregtelik vervolg word. De Lille moet haar kantoor môre ontruim, ooreenkomstig ‘n ooreenkoms met die DA. Sy het nie bevestig of sy dit wel gaan doen nie.
  • Die DA sê een van die verslae oor die uitgaande Kaapstadse burgemeester, was in opdrag van die Metroraad en het niks met die DA te doen nie. Die DA se woordvoerder, Solly Malatsi sê daar is ‘n duidelike onderskeid tussen die proses deur die Kaapstadse Metro en die DA se proses en dat die Bowman-verslag ‘n saak tussen De Lille en die raad is.
  • President Cyril Ramaphosa sal vanoggend optree as medevoorsitter saam met die Duitse Kanselier, Angela Merkel, by die G20 Afrikaberaad in Berlyn. Die sessie sal bygewoon word deur 12 Afrika staatshoofde. Die beraad sal na verwagting die weg baan vir beleggings op die vasteland deur die Groep van 20 ontwikkelde en ontwikkelende lande. Volgens ons verslaggewer in Duitsland sal die beraad voorafgegaan word deur Ramaphosa se sakeontbyt met Duitse sake-afgevaardigdes. Ramaphosa en Merkel het gisteraand ‘n bilaterale vergadering gehou. Volgens ‘n verklaring van die President is bestaande bilaterale betrekkinge tussen die twee lande hernu en verstewig. Daar is op die oomblik 600 Duitse maatskappye wat in Suid-Afrika sake doen.
  • ‘n Geldwa is tussen Vryheid en Newcastle in die noorde van Kwa Zulu-Natal opgeblaas en die rowers het met ‘n onbekende bedrag geld weggekom. Die polisie sê die veiligheidswagte moes stop toe die rowers gisternag op die voertuig losgebrand het. Die ruimte agter die bestuurskajuit is in die ontploffing vernietig. Die rowers het met die geld in verskillende rigtings gevlug. Niemand is in die aanval beseer nie.

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos verskaf deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Sonnig en bloedig warm

Min 20  Max 36

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm

Min 17  Max 35

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 20  Max 34

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 18  Max 31

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 16  Max 33

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm

Min 19  Max 36

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm

Min 19  Max 36

Kimberley – Bewolk en warm

Min 10  Max 29

Durban – Bewolk en baie warm

Min 16 en Max 30

Oos-London – Bewolk en warm met sterk wind in die middag

Min 12  Max 26

Upington –       Gedeeltelik bewolk en warm

Min 10  Max 25

Kaapstad – Bewolk en koel met reën

Min 10 en Max 16

Port Elizabeth –  Gedeeltelik bewolk en matig

Min 11 en Max 21

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 0  Max 14


 

Leave a Reply