Potgooi – Nuus en weer  9:30  11 Oktober 2018 –Donderdag

Potgooi – Nuus en weer 9:30 11 Oktober 2018 –Donderdag

Potgooi – Nuus en weer  9:30  11 Oktober 2018 –Donderdag

Aangebied deur Yolanda Weeksdae om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-10-11.092914

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa, FM Stereo, FM Live Gospel Active & Radio Connect South Africa

Nuus Hooftrekke

In die finale forensiese verslag oor die ondersoek na grootskaalse bedrog by VBS Mutual Bank word aanbeveel dat meer as 50 individue strafregtelik aangekla moet word. Die Reserwebank het VBS onder kuratorskap geplaas weens toenemende probleme met likwiditeit. Die Bank het ‘n afskrif van die verslag aan die wetstoepassings-agentskappe oorhandig vir verdere ondersoek. Van die indiwidue wat aangekla kan word sluit in die bank se voormalige uitvoerende hoofde, aandeelhouers, politici en hulle families en ouditeure wat die bank se vals finansiële state afgeteken het. Volgens die verslag was die meesterbreine agter die plundering onder andere Tshifhiwa Matodzi, die voorsitter van die bank, en sy mededirekteur, Robert Madzonga. Dit het intussen ook aan die lig gekom dat die broer van die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, onder die sowat 50 mense is wat by die ineenstorting van die bank betrek word. Brian Shivambu het volgens berigte 16 miljoen rand uit die bank gekry.

Die ANC beplan sy eie voorlegging aan die Zondokommissie wat Staatskaping ondersoek. Die voorlegging sal in reaksie wees op getuienis wat onlangs deur afgevaardigdes in die banksektor gelewer is. Die ANC se adjunksekretarisgeneraal, Jessie Duarte het vroeër vandag in Kaapstad aan die media gesê die party is besig met sy voorlegging en hoop om dit aan die kommissie voor te lê. Sy sê hulle wil die betrokke banke ook vrae vra, en alle partye moet die geleentheid kry om hul weergawe van gebeure te gee. Daar is onder andere getuig dat senior ANC-amptenare probeer ingryp het toe die Guptas se bankrekeninge gesluit is.

Die vakbond die CWU wil hê die SAUK moet die redes vir sy beplande personeelverminderings verduidelik. Die CWU en nog ‘n vakbond by die SAUK, BEMAWU, het bevestig dat hulle ‘n kennisgewing ingevolge artikel 189 van die wet op Arbeidsverhoudinge van die SAUK ontvang het. Die CWU se hoofsekretaris, Aubrey Tshabalala, sê hulle sal *môre se raadplegende vergadering gebruik om duidelikheid oor die afleggings en die SAUK se regrukstrategie te kry. Tshabalala sê hulle sal nooit instem tot ‘n voorstel om werkers af te lê terwyl die SAUK steeds ‘n groot taak het om sy openbare mandaat na te kom nie. In die kennisgewing bevestig die SAUK sy afleggingsplanne waarvan

die getal werkers onbekend is. Dit is deel van die Korporasie se herstruktureringsplanne. Die Openbare Uitsaaier sê die huidige salarisrekening is te hoog en onvolhoubaar, en hy is genoodsaak om daarom sy personeel te verminder. ‘n Raadplegende vergadering tussen die SAUK, BEMAWU en ander vakbonde word vir *môre beplan.

Een persoon is dood en nog een is ernstig beseer in ‘n voorval by Eenheid Vyf van Eskom se Lethabo-kragstasie in die Noord-Vrystaat. Die kragverskaffer sê die voorval het laat gistermiddag plaasgevind. Eskom sê die eenheid is tans buite werking weens ‘n breuk in die hoofstoompyp. Die ander eenhede is egter steeds operasioneel. Nooddienswerkers en die polisie, sowel as amptenare van Eskom, was gister op die toneel. Volgens Eskom is die Departement van Arbeid oor die voorval in kennis gestel.

 

Die orkaan Michael het die noordweste van die Amerikaanse staat Florida as ‘n kategorie vier storm met wind van bykans 250 kilometer per uur getref. Owerhede sê ‘n man is dood nadat ‘n boom op sy huis geval het. Kusdorpe is oorstroom, huise is onder water, bome is ontwortel en kragpale is omgewaai. Die storm het sowat agt ure nadat hy die vasteland getref het verswak tot ‘n kategorie een storm. Die goewerneur van Florida, Rick Scott het gister gewaarsku dat dit die ergste storm kan wees wat die gebied in 100 jaar tref. Meer as 370-duisend mense is Florida is aangesê om hul huise te ontruim, maar owerhede reken dat baie mense die waarskuwing geïgnoreer het. Minstens 13 mense is volgens berigte vroeër weens die orkaan dood in die Sentraal-Amerikaanse lande Honduras, Nicaragua en El Salvador.

 

Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA het die versekering gegee dat die opskorting van die Biometriese stelsel vir begunstigdes nie ‘n invloed sal hê op die uitbetaling van maatskaplike toelaes nie. Die opskorting van die stelsel is aangekondig na ‘n vergadering gister tussen die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Susan Shabangu, verteenwoordigers van die vakbond NEHAWU en senior amptenare van SASSA in Johannesburg. SASSA-werkers het gister begin staak en het gevra dat die stelsel opgeskort word. Hulle sê die stelsel is kwesbaar vir bedrog, en vorm nie deel van hulle posbeskrywings nie. ‘n Woordvoerder van SASSA, Paseka Letsatsi sê die uitbetaling van toelaes gaan voort soos dit beplan is.

 

Die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie eis dat die polisie met ‘n waterdigte strategie vorendag kom om bendegeweld hok te slaan. Dit volg nadat verskeie gemeeenskappe optogte in onder meer Gauteng en die Kaapse Vlakte gehou het om dié euwel onder die soeklig te bring. Die komitee wou ook van die Polisie weet hoe sy intellligensiedienste gebruik word om bendebedrywighede te bekamp. Die voorsitter van die portefeuljekomitee, Francois Beukman sê die polisie reageer dikwels te laat wanneer gemeenskappe reeds dwelmhuise geïdentifiseer het. Beukman het proaktiewe optrede bepleit. Die Polisie se hoof van Misdaadintelligensie, Peter Jacobs, het toegegee dat die polisie nie genoeg doen om bendebedrywighede in gemeenskappe vas te vat nie. Hy was deel van ‘n afvaardiging wat voor die komitee verskyn het om die Polisie se verslag vir die 2017/2018 geldjaar te bespreek.

Bek-en klouseer het in die Giyani-en Malamulelegebiede in Limpopo uitgebreek. Die provinsiale Departement van Landbou het die uitbreking bevestig en gesê hy het met ‘n inentingsveldtog begin. Daar word vermoed dat kontak tussen beeste en buffels van die nabygeleë Krugerwildtuin wat besmet is, tot die uitbreking gelei het. Gemeenskapsboere sê hulle is hulpeloos sonder die ingryping van die Departement.

 

 

Die weer

Temperature vir vandag soos deur verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo.

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 19  Max 34

Nelspruit –  Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min  16  Max 31

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 17  Max 32

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 16 Max 30

Vereeniging – Bewolk maar baie warm

Min 14 Max  33

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 16  Max 36

Bloemfontein – Effens bewolk maar baie warm

Min 11  Max 33

Kimberley – Gedeeltelik bewolk maar baie warm

Min 13  Max 35

Durban –  Sonnig en warm

Min 20  Max 29

Oos London –Grotendeels bewolk

Min 14  Max 23

Upington –       Grotendeels ‘n sonskyndag

Min 16  Max 34

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 12 Max 19

Port Elizabeth – Koel met afwisselende reënbuie

Min 14  Max 21

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 7  Max 21


 

Leave a Reply