Potgooi – Nuus en Weer 8 Oktober 2018

Potgooi – Nuus en Weer 8 Oktober 2018

Potgooi-Nuus en Weer 8 Oktober 2018

Aangebied deur Yolanda Weeksdae om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-10-08.092854

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie, maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa, FM Stereo & FM Gospel Live Active

HOOFTREKKE

Ernstige verkeersontwrigtings kom voor op die N3 in die suidooste van Johannesburg nadat vier mans vroeg vanoggend in ‘n botsing by Spruitview omgekom het. ‘n Taxi en ‘n sportnutsvoertuig het teen mekaar gebots. Dertien mense is ernstig beseer. Opruimingsoperasies is nog aan die gang. Die N3 sal nog lank gesluit bly.

Op die N1 buite Beaufort-Wes in die Karoo is ‘n 40-jarige man dood toe hy deur ‘n motor getref is. Die Wes-Kaap se verkeershoof, Kenny Africa, sê die man het die pad oorgesteek nadat hy uit ‘n taxi geklim het.

Die situasie in die oorwegend bruin woongebiede in Gauteng, insluitende Westbury, Ennerdale en Eldorado Park, is vanoggend kalm na verlede week se protesoptrede. Inwoners van dié gebiede het verlede week vir die Total Shutdown-protesoptrede saamgetrek, wat tot gewelddadige botsings met die polisie gelei het. Hulle het die regering daarvan beskuldig dat hy niks doen aan dwelmverwante misdaad in die gebiede nie, en dat hulle uitgesluit word weens die swart bemagtigingsbeleid. ‘n Polisiewoordvoerder sê polisiebeamptes is in die gebiede ontplooi en hulle gaan voort om die situasie te monitor.

Agt polisielede wat Vrydag aangekeer is in verband met die marteling van en moord op ‘n Nigeriese burger, moet vandag in die landdroshof op Vanderbijlpark verskyn. Die ses mans en twee vroue word daarvan beskuldig dat hulle die 25-jarige Olamilekan Badmus in Oktober verlede jaar in Vanderbijlpark versmoor het. Lede van die polisie se honde-eenheid en die blitspatrollie het na ‘n huis gegaan, wat vermoedelik ‘n dwelmnes was. Volgens die polisie het hulle dwelms aan die oorledene gekry. Die polisiewaghond, OPOD, sê egter dit was ‘n rookskerm om die marteling en moord toe te smeer. Die polisievakbond, POPCRU, sê die polisielede is destyds deur die inwoners van die huis aangerand en ontwapen en hulle het uit selfverdediging opgetree.

Die EFF in Noordwes het die premier, Job Mokgoro, gevra om sy LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Hoffman Galeng, af te dank. Dit volg na bewerings dat Galeng vier privaat veiligheidswagte met belastingsbetalers se geld gehuur het om sy privaatwoning op Vryburg te beskerm. Daar word beweer dat hy 50-duisend rand per maand gebruik om die wagte te betaal al is hy die meeste van die tyd in sy ampswoning in Mahikeng. Die EFF sê hulle beskou dit as ‘n wanaanwending van staatsgeld.

Die hoof van die Internasionale polisie-organisasie, Meng Hongwei, het bedank. Hongwei het op 25 September verdwyn nadat hy Interpol se hoofwartier in die Franse stad Lyon verlaat het om in sy geboorteland Sjina besoek af te lê. Die Sjinese owerhede het intussen hul stilswye verbreek en bevestig dat hy aangehou word. Beijing se Teenkorrupsie-owerheid sinspeel daarop dat hy aangekeer is in ‘n teenkorrupsieveldtog wat deur die Sjinese president gelas is en reeds tot die verdwyning van verskeie senior leiers gelei het.

Betogings onder die vaandel van die Shutdown-vaandel in oorwegend bruin gemeenskappe in Gauteng wat vandag sou plaasvind is vir eers afgelas. Gemeenskappe sal egter deur die week in verskeie gebiede in Johannesburg betoog. Die opstand is ‘n regstreekse gevolg van die dood van ‘n vrou van Westbury, Heather Peterson wat in bendekruisvuur beland het. Intussen sal agt mense wat in Westbury in hegtenis geneem is in verband met moord en die onwettige besit van dwelms, vandag in die Johannesburgse Landdroshof verskyn. Die verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem, en het op die polisie se lys van gesoekte verdagtes verskyn. Die polisie het ook beslag gelê op ‘n vuurwapen en dwelms.

Die voormalige premier van Noordwes en die ANC se provinsiale voorsitter, Supra Mahumapelo het onttrek aan die party se provinsiale taakspan. Dit het aan die lig gekom tydens ‘n vergadering van die span die afgelope naweek. Twee groot streke, die dr Kenneth Kaunda en dr Ruth Mompati-streke het ook nie die vergadering bygewoon nie. Die taakspan is aan die einde van Augustus op die been gebring om die party se sake in die provinsie te bestuur.

Die Zoeloekoning, Goodwill Zwelithini, eis dat die regering aan hom ‘n geskrewe onderneming gee dat die grond onder die raad van die Ingonyama Trust nie onteien sal word nie. Die koning het vroeër vanjaar die vrees uitgespreek dat sy grond geteiken word. Die opmerking het die ANC-president, Cyril Ramaphosa, gedwing om ‘n dringende vergadering met die Koning te hou waar hy hom verseker het dat sy grond veilig is. Zwelithini het egter by die Moses Mabhida-stadion in Durban gesê hy wil ‘n skriftelike waarborg hê. Die koning het ook skerp gereageer op die Konstitusionele Hof se wettiging van die gebruik van dagga in privaat plekke. Hy sê dit sal die nasie verwoes.

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty sê hy sal inligting verskaf aan die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping. Die voorsitter van die kommissie, adjunkhoofregter, Raymond Zondo, het reeds ‘n beroep op staatsamptenare en politieke leiers gedoen om met inligting na vore te kom wat die kommissie met sy werk kan bystaan. Die hoofsekretaris van die SAKP, Blade Nzimande, het die aankondiging tydens die bekendstelling van die Rooi Oktoberveldtog op Bosbokrand in Mpumalanga gedoen. Nzimande sê die party wil ook hê dat diegene wat betrap word dat hulle by korrupsie betrokke was, in hegtenis geneem moet word.

Die politieke party, COPE, sê intussen hy sal die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, se verskoning aanvaar, op voorwaarde dat hy onthul wat bespreek is tydens sy gesprekke met die Gupta-familie. Nene het Vrydag in die openbaar om verskoning gevra omdat hy versuim het om die omvang van sy kontak met die Guptas volledig te onthul. Nene het onthul dat hy verskeie privaatvergaderings met die Gupta’s by hulle woonkompleks in Saxonwold en hulle kantore gehad het. Die Mail & Guardian berig ook dat sy seun, Siyabonga, betrokke was by ‘n transaksie met die Openbare Beleggingskoporasie toe Nene die voorsitter was.

Durban het vier toekennings by die 2018 World Travel toekennings by die Internasionale Konvensiesentrum in die stad verower. Die toekennings is bekend as die Oscars van die reisbedryf en toeriste stem vir die wenners. Durban het die toekenning vir Afrika se voorste Vergader- en Konferensiesentrum gewen, asook vir die beste Afrika-bestemming en hawe vir passasierskepe.

 

Twintig mense is dood in die Amerikaanse staat New York in ‘n botsing waarby ‘n limousine betrokke was wat mense na ‘n partytjie in die dorp Schoharie vervoer het. Die polisie sê al 18 passasiers in die limousine en twee voetgangers is dood. Ooggetuies sê die limousine het oor ‘n kruising gejaag, ‘n motor getref en toe in ‘n parkeerterrein ingeploeg. Die oorsaak van die ongeluk is onbekend. Die name van die oorledenes is nog nie amptelik bekend nie, maar die New York Times sê die slagoffers sluit vier susters en minstens twee pasgetroude pare in.

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Sonnig en baie warm

Min 12  Max 31

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 11  Max 26

Pretoria – Sonnig en warm

Min 13  Max 30

Johannesburg –  Gedeeltelik bewolk en warm

Min 12  Max 28

Vereeniging –  Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 12  Max  30

Rustenburg – Sonnig en baie warm

Min  12   Max  32

Bloemfontein –  Sonnig en baie warm

Min 10  Max 31

Kimberley –  Gedeeltelik bewolk maar baie warm

Min 17   Max 33

Durban – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 18  Max  24

Oos-London – Sonnig en matig

Min 17  Max 25

Upington – Gedeeltelik bewolk maar baie warm

Min 20  Max 35

Kaapstad – Sonnig en baie warm

Min 15  Max 29

Port Elizabeth – Sonnig en matig

Min 16  Max  24

Sutherland –  Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 13  Max 30

 


 

Leave a Reply