Potgooi – Nuus en Weer 5 Oktober 2018

Potgooi – Nuus en Weer 5 Oktober 2018

Potgooi Nuus en Weer 5 Oktober 2018

Aangebied deur Yolanda Weeksdae om 9:30(CAT)

Klik Hier om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-10-05.092905

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa, FM Stereo & FM Live Gospel Active

Nuus Hooftrekke

Die Departement van Arbeid gaan `n koördinerings- en moniteringsmeganisme instel om toe te sien dat die ooreenkoms geïmplementeer word wat by die Werkskeppingsberaad in Kemptonpark onderteken is. Dit het ten doel om samewerking te verbeter in die regering en tussen die regering en sy maatskaplike vennote asook tussen die onderskeie vlakke van regering. Die regering en die sake- en arbeidsektore het by die beraad, onder leiding van President Cyril Ramaphosa, ooreengekom om hulle te beywer vir werkskepping, om voorkeur te gee aan plaaslike vervaardigde produkte en om meer produkte uit te voer. Dit sluit ook in meer befondsing in die landbou- en mynsektore, verbeterde infrastruktuur in munisipaliteite en behuisingsprojekte wat meer werksgeleenthede sal skep. Daar is ook ooreengekom om jong entrepreneurs van hulp te wees met die befondsing van klein- en middelslagmaatskappye. Die beraadgangers is dit eens dat korrupsie en staatskaping uitgeroei moet word en dat groter klem geplaas word op verbeterde onderwys- en vaardigheidsopleiding. Die beraad eindig vandag.

Die EFF het intussen President Ramaphosa versoek om die wetgewing op die Befondsing van Politieke Partye te onderteken. Vroeër het die Presidensie gesê hulle wil eers die wetgewing bestudeer om grondwetlike probleme te voorkom voordat Ramaphosa dit onderteken. Die wetgewing is drie maande gelede deur die Nasionale raad van Provinsies en die Nasionale Vergadering goedgekeur en wag nou op Ramphosa se handtekening. Die EFF se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, het sy party se kommer oor die wetgewing uitgespreek en sê die ANC wil nie die wetgewing toelaat nie, omdat hulle die identiteit van hul geldelike befondsers geheim wil hou. Hy sê Ramaphosa behoort aan te dui wat die knelpunte is wat hom keer om dit te onderteken.

 

Die organiseerders van die Total Shutdown-beweging in Gauteng, wat fokus op meestal bruinwoonbuurte, sê die polisie sal nie hulle protesoptrede oor maatskaplike uitsluiting, ontspoor nie. Dit volg nadat die polisie vroegoggend inwoners wat in Eldorado Park saamgetrek het, met rubberkoeëls uiteengejaag het. Berigte is intussen ontvang dat geweld in Ennerdale opgevlam het en inwoners strate met brandende bande versper. Die Gautengse Total Shutdown koördineringskomitee het vroeër by ‘n vergadering besluit om sowat tien bruinwoongebiede tot stilstand te bring uit protes teen bendemisdaad en dwelmbedrywighede wat volgens hulle vererger en die lewens van onskuldige inwoners eis.

Metrorail het bevestig dat ‘n totaal van 320 passasiers beseer is toe twee passasierstreine gisteraand by die Van Riebeeckstasie in Kemptonpark gebots het. Niemand is in die ongeluk dood nie. ‘n Trein van Metrorail het van agter in ‘n stilstaande trein vasgery wat kort tevore onklaar geraak het. Albei treine was van die Park-stasie in Johannesburg na Pretoria onderweg. Metrorail sê die meeste passasiers se beserings is nie baie ernstig nie en slegs drie persone moes hospitaalbehandeling ontvang. Die minister van Vervoer, Blade Nzimande, het opdrag gegee dat die Spoorveiligheidsreguleerder die botsing ondersoek. ‘n Woordvoerder van Metrorail, Lillian Mofokeng, sê die botsing sal nie treinvervoer in die gebied raak nie.

Kaapstad se burgermeester, Patricia de Lille, het die media aangemoedig om daarmee vol te hou om regeringslui aanspreeklik te hou. De Lille, wat aan die einde van Oktober uit haar amp tree, het joernaliste in Kaapstad toegespreek tydens haar laaste jaarlikse interaksie met die media. Sy sê sy is besig met die voltooiing van haar boek oor haar ervarings van die afgelope sewe jaar en wat sy met die hulp van mediaberigte saamstel. De Lille sê hoewel daar baie in Kaapstad uitgerig is die afgelope sewe jaar, lê daar nog baie werk voor.

Betrokkenes by die brandbestrydingsektor, akademici en die regering het die gebied by Knysna in die Suid-Kaap besoek waar die verwoestende brande in 2017 plaasgevind het. Hulle het vir die twaalfde simposium oor brandsbestuur in George vergader om planne bespreek oor hoe sulke brande voorkom kan word. Kommer is uitgespreek oor die aanplant van uitheemse gewasse in sekere gebiede. `n Woordvoerder van die Suid-Kaapse brandbeskermingsvereniging, Dirk Smit, sê dit is belangrik dat alle rolspelers saamwerk om brande te bekamp.

Verkeersboetes van meer as 40 duisend rand is op die eerste dag van die verkeersveiligheidsoperasie op die Trans-Kalahari-roete uitgereik. Die operasie van drie dae, is op die N4-snelweg by Rustenburg in Noordwes gehou en duur tot Saterdag. Dit raak motoriste wat tussen Suid-Afrika, Botswana en Namibië reis. Noordwes se LUR vir Veiligheid en Vervoer, Mpho Motlhabane, sê bykans 400 voertuie is voorgekeer. Van die motoriste het dit verwelkom en sê dit sal help dat bestuurders die verkeersreëls gehoorsaam.

Die Amerikaanse visepresident, Mike Pence, het China daarvan beskuldig dat hy `n magsverandering in die Withuis probeer meebring. Pence het die bewerings van inmenging in die Amerikaanse verkiesing gemaak in `n toespraak by die Hudson-instituut in Washington. Hy sê China het nou politieke teikens nadat Amerika handelstariewe verhoog het. Volgens hom wil China `n nuwe president in die Withuis sien. Pence se bewerings teen China volg te midde van ‘n ondersoek na president Donald Trump se verkiesingsveldtog in 2016 waarin daar moontlike Russiese inmenging was.

Van die voorste Demokrate in die regskomitee van die Amerikaanse senaat het sterk kritiek uitgespreek oor die bevindings van die speurdiens se ondersoek na seksklagte teen president Donald Trump se kandidaat vir Amerika se hoogste hof, Brett Kavanaugh. ‘n Professor in Sielkunde, Christine Blasey Ford, het verlede week voor die komitee getuig en Kavanaugh van seksuele aanranding by ‘n partytjie in 1982 beskuldig. Kavanaugh ontken die aantygings. Die Demokrate en ‘n aantal Republikeine het toe die FBI-ondersoek aangevra. Hulle sê dit wil voorkom om die FBI se toegang tot inligting beperk was.

Amerika het aangekondig dat sewe Russiese intelligensie-agente aangekla gaan word. Dit vorm deel van gesamentlike optrede deur Nederland en Brittanje teen vermeende Russiese kuberkrakers. Amerikaanse amptenare sê die agente het kuberaanvalle teen verskeie organisasies beplan – onder meer teen die agentskap teen dwelmisbruik in sport. Dit volg nadat Nederlandse en Britse amptenare vier Russe geïdentifiseer het wat vermoedelik lede was van ‘n span kuberkrakers wat rekenaars van die internasionale organisasie teen chemiese oorlogvoering wou binnedring. Die span het in April kuberkrakingstoerusting in ‘n motor buite die organisasie se kantoor in Den Haag opgestel. Die organisasie was ten tyde daarvan besig met sy ondersoek na die senugasaanval op ‘n voormalige Britse spioen, Sergei Skripal, en sy dogter, Yulia, in die Britse stad Salisbury.

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid- Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Sonnig en warm

Min 10 Max 27

Nelspruit –  Sonnig en matig

Min 8 Max 24

Pretoria – Sonnig en matig

Min 10  Max  25

Johannesburg –  Gedeeltelik bewolk en koel

Min 6 Max 19

Vereeniging – Sonnig en matig tot warm

Min 8 Max 25

Rustenburg – Sonnig en warm

Min 10 Max 28

Bloemfontein –  Sonnig en warm     

Min 6 Max 26

Kimberley – Sonnig en warm

Min  9  Max 28

Durban –  Sonnig maar koel tot matig

Min 14 Max 22

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en koel tot matig

Min 14 Max 22

Upington –       Mooi weer tot warm

Min 22 Max 29

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk tot matig warm

Min 15  Max 26

Port Elizabeth –  Gedeeltelik bewolk en koel tot matig

Min  14  Max 21

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en matig

Min  6 Max 25


 

Leave a Reply