Potgooi – Nuus en Weer 4 Oktober 2018

Potgooi – Nuus en Weer 4 Oktober 2018

Potgooi – Nuus en Weer 4 Oktober 2018

Aangebied Weeksdae om 9:30 (CAT) deur Yolanda

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-10-04.092919

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa, FM Stereo & FM Live Gospel Active

 

Hooftrekke

 

  • Die vakbondfederasie Fedusa sê die Werksberaad wat vandag in Midrand begin sal ‘n belangrike platform verskaf vir rolspelers om saam te werk om die werkloosheidskrisis in die land te hanteer. Ten spyte van verskeie regeringsprogramme om werksgeleenthede te skep, is die werkloosheidsyfer steeds net bo 27-persent. President Cyril Ramaphosa sal die beraad open, en het ‘n beroep gedoen vir innoverende voorstelle om werksgeleenthede te skep. Die hoofsekretaris van Fedusa, Dennis George sê hulle verwag om goed met ander rolspelers saam te werk om oplossings vir werkloosheid te vind.
  • Die drukgroep #unite Behind, sal vanmiddag by die Kaapstadse stasie betoog teen die diensprobleme waarmee Metrorail te kampe het. Treindienste is die afgelope tyd benadeel deur brandstigting op treine sowel as die vandalisering of diefstal van spoor-infrastruktuur. Verlede maand is verskeie pendelaars met skerp voorwerpe gesteek en van ‘n bewegende trein op Stellenbosch afgegooi. Die organiseerder van die # Unite Behind-veldtog, Zuki Vuka, sê treinpendelaars loop die ergste deur. Vuka sê hulle word nie vergoed wanneer treine vertraag of gekanselleer word nie en moet self opdok vir alternatiewe vervoer.
  • Die ANC in Kwa Zulu-Natal het ‘n klag by die Verkiesingskommissie gelê na bewerings dat kiesers met busse na stempunte aangery is tydens ‘n tussenverkiesing in die Umthonjaneni munisipaliteit in die noorde van die provinsie. Die pos het vakant geword toe die IVP-raadslid van die wyk oorlede is. Die ANC sê die verkiesingskommissie het ingestem dat die kiesers waaroor daar twyfel bestaan of hulle in die wyk woon ‘n afsonderlike stembus sal gebruik totdat die kommissie die saak ondersoek het.
  • Die DA in Noordwes sê niks het nog verander in die 100 dae sedert Job Mokgoro in Junie as premier oorgeneem het nie. Hy het by Supra Mahumapelo oorgeneem wat te midde van gewelddadige betogings teen sy leierskap en die nasionale regering se besluit om verskeie provinsiale departemente onder administrasie te plaas, in Mei bedank het. Die DA het die media in Mahikeng toegespreek nadat hulle Makgoro ‘n punt van vyf uit tien gegee het vir algemene prestasie. Die DA se provinsiale leier, Joe Macgluwa, sê Mokgoro was sedert sy inhuldiging nog nie by een sitting van die provinsiale wetgewer nie en dit is duidelik dat hy geen visie het nie. Mokgoro se woordvoerder, Vuyisle Ngesi sê hy sal op die gepaste tyd op die bewerings reageer.
  • President Cyril Ramaphosa het opnuut herhaal dat hy voor die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping sal verskyn, indien hy versoek word om dit te doen. Dit het in ‘n geskrewe antwoord op ‘n vraag van die leier van COPE, Mosiuoa Lekota, in die Parlement ter sprake gekom. Ramaphosa sê hy sal graag wil help indien hy gevra word om voor die kommissie te verskyn. Hy het ook bygevoeg dat diegene met inligting, insluitende kabinetslede en senior staatsamptenare, aangemoedig word om die kommissie te nader.
  • Een persoon is dood en twee ernstig beseer in ‘n botsing tussen twee vragmotors en ‘n motor naby Rawsonville in die Boland. Volgens die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa het die twee vragmotors gisteraand op die N1 tussen Worcester en Rawsonville reg van voor af teen mekaar gebots, terwyl ‘n nutsvoertuig ook betrokke was. Die slagoffers was in die nutsvoertuig. Die pad is nog gesluit.
  • ‘n Gedenkdiens is gehou vir die vrou wat in kruisvuur van ‘n skietvoorval in Westbury in Johannesburg dood is. Haar man, Rupert Peterson, het by die geleentheid sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hulle ondersteuning. Heather Peterson is deur ‘n dwaalkoeël getref in wat vermoedelik ‘n skietery tussen dwelmbendes in die gebied was. Haar tienjarige niggie is gewond en intussen uit die hospitaal ontslaan. Die Westburygemeenskap het sedertdien verskeie betogings gehou om beter wetstoepassing te eis.
  • Die Gautengse regering sal intussen maatskaplike werkers stuur om berading te verskaf aan die Petersonfamilie. Berading sal ook verskaf word aan gemeenskapslede wat die voorval gesien het. Regeringsamptenare van Gauteng het vroeër die familietuiste besoek om meegevoel te betuig. Onder die amptenare was die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sizakele Nkosi-Malobane.
  • Die minister van Polisie, Bheki Cele het in ‘n geskrewe antwoord aan die Parlement bevestig dat meer as duisend polisiebeamptes die afgelope vyf jaar afgedank is weens misdade soos moord, verkragting en korrupsie. Tweehonderd-en-30 beamptes is afgedank vir korrupsie, 191 vir diefstal, 78 vir moord, 29 vir verkragting en 93 vir bedrog. Cele sê ook dat 13 lede van die polisiediens afgedank is weens verlore vuurwapens wat aan die staat behoort. In die Arbeidshof is daar meer as 400 sake wat steeds hangend is, en nog 126 is afgehandel.
  • Gure weer wat oornag oor die binneland in beweeg het, sal teen môre opklaar en temperature sal begin herstel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dit sal vandag koel en winderig wees oor die grootste dele van Gauteng en Mpumalanga. Geen sneeu word egter verwag nie. Ligte reën kan wel voorkom. Dit sal Saterdagmiddag ‘n warm dag wees met ‘n matige wind wanneer die All Blacks en die Springbokke in Pretoria kragte meet. Wes-Kapenaars kan Dinsdag en Woensdag weer koeler weerstoestande verwag wanneer ‘n kouefront langs die kus verbybeweeg. Ligte reën word ook Woensdag oor die Skiereiland verwag.
  • Nog reën het in die opvangsgebied van die droogtegeteisterde Nelson Mandelabaai Metro en omliggende gebiede uitgesak. Meer as 32 millimeter is op Joubertina gemeet, en 18 millimeter op Kareedouw. Die water sal in die Kougadam inloop, wat die grootste dam is wat water aan die Metro verskaf. Die dam het onlangs sy laagste vlak op minder as sewe persent bereik. Na goeie reëns het die watervlak tot meer as 50 persent in net vier dae gestyg. Waterbeperkings is steeds in die Metro en nabygeleë dorpe van krag.

Weer

 

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 9  Max 23

Nelspruit –  Bewolk en koud met reen

Min  7  Max 16

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 6  Max 20

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 6 Max 20

Vereeniging – Sonnig en aangenaam

Min 7 Max  22

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 7  Max 25

Bloemfontein – Sonnig en matig

Min 4  Max 21

Kimberley – Sonnig en warm

Min 7  Max 25

Durban –  Gedeeltelik bewolk met oggendreen

Min 14  Max 20

Oos London – Effens bewolk en matig

Min 12  Max 20

Upington –       Sonnig en warm

Min 13  Max 28

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 13  Max 23

Port Elizabeth – Sonnig maar koel

Min 12  Max 19

En laastens

Sutherland – Sonnig en matig

Min 3  Max 21


 

Leave a Reply