Potgooi – Nuus 9:30  2 Oktober 2018 Dinsdag

Potgooi – Nuus 9:30 2 Oktober 2018 Dinsdag

Potgooi – Nuus 9:30  2 Oktober 2018 Dinsdag

Aangebied Weeksdae om 9:30 (CAT) deur Yolanda

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-10-02.092912

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa, FM Stereo & FM Live Gospel Active

NUUS 

HOOFTREKKE

Die Tswhane Metropolisie het motoriste gemaan om vanoggend sekere strate naby die Pretoriase landdroshof te vermy waar ‘n 20-jarige verdagte wat van verkragting verdink word, in die hof gaan verskyn. Die man staan tereg op aanklagte van die verkragting van ‘n sewejarige kind by die Dros-restaurant in Silverton op 22 September. Strate soos Francis Baard, tussen Bosman- en Sophie de Bruyn, sal van agtuur vanoggend tot drieuur vanmiddag gesluit wees vir verkeer. Talle organisasies word by die hof verwag waar ‘n plakkaatbetoging gehou gaan word. Dit is die verdagte se tweede hofverskyning. Hy was sedert sy inhegtenisneming, in die restaurant se manskleedkamer, in aanhouding. Hy sal na verwagting vandag aansoek doen om borgtog. Die Valke het aangedui dat hulle sy borgtogaansoek gaan betwis.

Die Minister van Polisie, Bheki Cele, word vanoggend omstreeks elfuur in Westbury in Johannesburg verwag, weens die afgelope dae se onrus deur ontevrede inwoners. Die onrus het uitgebreek toe ‘n vrou verlede week doodgeskiet is toe sy in die kruisvuur van bendes beland het. ‘n Kind is in die voorval gewond. Inwoners eis dringende optrede op regeringsvlak oor bende- en dwelmbedrywighede, wat volgens hulle vererger. Minstens vyf mense is vroeër in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld. Die polisie het gisteraand oproerige inwoners met traanrook en rubberkoeëls uiteenjaag toe hulle ‘n petrolbom na die Rea Vaya-bushalte geslinger het en ook na die Sophiatown-polisiestasie opgeruk het waar die agterkant van die gebou met klippe bestook is.

Die polisie soek steeds na die verdagtes wat gister ‘n transitovoertuig by die Promenade-winkelsentrum in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte beroof het. ‘n Polisiewoordvoerder, Vish Naidoo, sê die gewapende rowers het ‘n veiligheidswag oorrompel toe hy die winkelsentrum verlaat het. Die rowers het met ‘n onbekende bedrag geld gevlug.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Blindes het ‘n skikking verwelkom wat met die Departement van Basiese Onderwys bereik is om te verseker dat alle blinde en swaksiende leerlinge handboeke in braille ontvang. Die skikking bring ‘n einde aan ‘n hofsaak wat al ses jaar duur. Die departement moet 2018 se handboeke voor die einde van die maand beskikbaar stel. Handboeke vir die 2019 akademiese jaar moet teen 30 November afgelewer word.

Die brandstofprys sal om middernag skerp styg en motoriste sal vir die eerste keer ooit meer as 17 rand vir ‘n liter petrol opdok. Die petrolprys sal met sowat ‘n rand per liter styg en diesel sal een-rand-24 sent ‘n liter duurder wees. Die parafienprys styg ook met een-rand-vier sent en vloeibare gas met een-rand-79 sent. Die styging, wat as ‘n terugslag vir motoriste bestempel word, is hoofsaaklik weens ‘n styging in ruolie-pryse en `n swakker rand.

Motoriste in die Oos-Kaap wat tussen Januarie 2005 en Maart 2017 nie hul voertuiglisensies hernu het nie, kan nou amnestie kry. Die Oos-Kaapse Departement van Vervoer sê dié motoriste het tot die einde van Desember kans om hul lisensies te hernu. Suksesvolle aansoekers sal gevrywaar word van betaling of afslag kry. Aansoeke kan by plaaslike munisipaliteite ingedien word en moet vergesel word van ‘n beëdigde verklaring waarin redes vir die agterstallige betaling verskaf moet word.

‘n Sweedse hof het die 72-jarige Fransman, Jean-Claude Arnault vir twee jaar tronk toe gestuur. Hy was midde in ‘n sekskandaal wat daartoe gelei het dat die Sweedse Akademie vanjaar se toekenning vir die Nobelprys vir Letterkunde, uitgestel het. Arnault is getroud met ‘n lid van die Akademie. Arnault is op een van twee aanklagte van verkragting skuldig bevind oor voorvalle in 2011. ‘n Sweedse koerant het in 2017 die verklarings van 18 vroue gepubliseer wat Arnault beskuldig het van verkragting, molestering en seksuele teistering.

Die voormalige burgemeester van die Nelson Mandela-metro, Athol Trollip, sê hy gaan inligting bekendmaak oor korrupsie waarby die UDM-leier, Bantu Holomisa, en Nelson Mandelbaai se burgemeester, Mongameli Bobani, betrek word. Hy sê die korrupsie het betrekking op die befondsing van die 2016-tussenverkiesing. Trollip het aan die Kaapse Persklub gesê hy het op ‘n klomp korrupsie afgekom nadat hy in 2016 as burgemeester oorgeneem het. Hy sê hy verskeie briewe aan Holomisa geskryf en ook vyf keer met hom vergader oor die probleme wat hy met Bobani ervaar het.

Nieu-Seeland se rugby-afrigter, Steven Hansen, sê die verwagting is dat sy span elke wedstryd móét wen en daarom kan hulle nie op hul louere rus wanneer hulle Saterdag in Pretoria teen die Springbokke te staan kom nie. Dit is die laaste wedstryd in die Rugbykampioenskapsreeks, wat reeds verlede Saterdag deur die All Blacks beklink is. Nieu-Seeland het vanjaar vier van sy vyf wedstryde in dié reeks gewen en is vroeër onkant gevang toe die Springbokke hulle in Wellington met 36-34 geklop het.

Argentinië het drie veranderings aangebring aan die span wat Saterdag in Salta teen Australië te staan kom in die Rugbykampioenskapsreeks. Die Wallabies moet dié wedstryd wen om te verhinder dat hulle onderaan die punteleer eindig. Argentinië is drie punte vóór die Wallabies, wat net een van hul vyf wedstryde in die kampioenskapsreeks kon wen. Argentinië het Australië verlede maand in Queensland met 23-19 geklop.

Die wenner van vanjaar se Amerikaanse Ope-vrouetitel, die Japannees Naomi Osaka, sê dit was vir haar ‘n bittersoet oorwinning. Die wedstryd, waarin Osaka die Amerikaner Serena Williams verslaan het, is oorskadu deur ‘n relletjie tussen Williams en die wedstrydskeidsregter. Osaka sê dit is nie haar gelukkigste herinnering nie en sy probeer om daarvan te vergeet.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Sonnig en baie warm

Min 15 Max 32

Nelspruit – ‘n Bloedige warm dag

Min 14 Max 38

Pretoria – Sonnig en warm

Min 15 Max 30

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 14 Max 29

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 12 Max 30

Rustenburg – ‘n Sonnige en baie warm dag

Min 13 Max 33

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 5 Max 30

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 9 Max 32

Durban – Bewolk en koel tot matig

Min 25 Max 25

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en koel tot matig

Min 11 Max 21

Upington –       Plek plek bewolk en warm

Min 11 Max 29

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en koel, maar sonnig met tye

Min 11 Max 16

Port Elizabeth –   Gedeeltelik bewolk met middagreën

Min 11 Max 20

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en koud

Min 1 Max 14


 

Leave a Reply