Potgooi – Nuus &  Weer 9:30 6 September 2018 -Donderdag

Potgooi – Nuus & Weer 9:30 6 September 2018 -Donderdag

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30

Klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

 

Nuus

Swak infrastruktuur kos brandweermanne hul lewens

In die DA-koalisie beheerde Johannesburg is drie brandweermanne dood vermoedelik as gevolg van gebrekkige infrastruktuur, en die vraag is wie daarvoor verantwoordelik gehou gaan word.

Die Bank van Lisabon Gebou, wat onder andere enkele staatsdepartemente huisves, is al twee dae aan die brand. Drie brandweermanne is gister dood in die brand, terwyl enkele mense in die hospitaal behandel word vir brandwonde en rookinaseming.

Die lae waterdruk is een van die groot redes waarom die brand nie onder beheer gebring kan word nie, en wat waarskynlik bygedra het tot die dood van die brandbestryders.

Daar word ook vrae gevra oor die kwaliteit van die instandhouding van brandbestryding toerusting, terwyl dit alombekend is dat die standaard van opleiding van brandbestryders ook nie meer na wense is in vergelyking met hoe dit in die ou bedeling was nie.

Bron: Die Vryburger

Toerismesyfers daal

Die Wes-Kaap beleggings agentskap, Wesgro, het aangetoon dat daar ‘n afname was in besoekers van oorsee in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.

Die waterkrisis was een rede maar die “ongelukkige” boodskappe rakende misdaad en grondgryp het toeriste afgeskrik.

Bron: Die Vryburger

Misdaad in Noord-Kaap neem toe

Die wrede aanval waarin die 81-jarige mnr. John Byles by Tadcaster met grawe aangeval is voor gif oor hom uitgegiet is, is die soveelste wekroep vir veiligheid in die Noord-Kaap.

Dr. Wynand Boshoff, leier van VF Plus in die Noord-Kaap (foto), sê dit word steeds duideliker dat selfs hierdie tradisioneel veilige provinsie nie meer die vlaag van landelike geweld ontkom nie. Veiligheid is toenemend ‘n gemeenskapsaak waartoe elke individu sy deel moet bydra.

Die plaasgemeenskap van Tadcaster tussen Jan Kempdorp en Hartswater is deel van die groot Vaal-Harts-besproeiingskema. Dié verbeeldingryke ontwikkeling is in die jare 30 van die vorige eeu aangepak om die vrugbaar, maar dorre Hartsriviervallei vanuit die Vaalrivier te besproei.

Duisende arm Afrikaners het hulleself hier aan hulle skoenveters opgetrek. Hulle afstammelinge is vandag regoor die land op alle vlakke van die samelewing te vinde, asook in die “skema” self. Daar produseer hulle graan, lusern, olywe, pekanneute en wyn vir die plaaslike en oorsese mark.

Volgens die VF Plus is ‘n man van 81 wat steeds vroeg opstaan om sy boerderytaak aan te pak, ‘n voorbeeld in ‘n land waar werkloosheid epidemiese afmetings aanneem. Pleks dat hy gevier en waardeer word, is hy op só ‘n wrede manier aangeval.

“Die regering neem aanstoot as plaasaanvalle vir spesiale aandag uitgesonder word, maar dit is moeilik om nié ‘n verband tussen openbare aanvalle op wit grondbesit en aanvalle soos hierdie te lê nie,” sê dr. Boshoff.

Hy het mnr. Byles spoedige beterskap toegewens.

Bron: Die Vryburger

Natal Landboudepartement gekaap deur “parasiete”

Die Natalse LUK van landbou en voorste kommunis in dié provinsie, Themba Mthembu (foto), het bekend gemaak dat “parasiet netwerke” die departement se werk ondermyn.

Volgens hom is dit duidelik dat die departement gekaap is deur mense van binne en buite die departement. Volgens hom is die departement soos ‘n beskadigde orgaan wat nie genees kan word nie maar ‘n oorplanting kort.

In 20 jaar is daar sewe LUK’s vervang en tien departementshoofde. Bedrog en finansiële wangedrag sowel as samespanning is ‘n gegewe in die departement.

Ontleders doen aan die hand dat die hele departement dalk oorgeneem moet word deur “voorheen bekwame afgedankte” amptenare.

Bron: Die Vryburger

Waarskuwing rondom kodeïen

Die SA Aptekers Vereniging het die publiek gewaarsku teen die misbruik van medisyne.

Die misbruik van oor-die-toonbank en voorgeskrewe medisyne is die oorsaak van verskeie gesondheidsprobleme.

Verkeerde gebruik van veral kodeïen-bevattende medisyne kan lei tot verslawing en selfs tot dwelmweerstandige siektes.

Die SAAV het die publiek versoek om seker te maak dat medikasie korrek gebruik word soos voorgeskryf om sodoende komplikasies te voorkom weens die misbruik daarvan.

Kodeïen verslawing kan lei tot aanvalle, lewer- en nierskade, depressie, angstigheid en selfs dood.

Bron: Die Vryburger

Brandstof chaos?

Brandstof pryse sou ongeveer 25c per liter styg op 5 September, maar dit is op die laaste oomblikke deur die regering verminder na 5 sent per liter.

Dit beteken dat die staat bykans R500 miljoen sal moet spandeer om die tekorte te verhaal in September.

Dit is die eerste keer sedert die vroeë 2000’s dat ‘n regering die brandstofprysverhoging beperk het.  Jeff Radebe het die toestemming gegee dat die sentrale energiefonds die tekort sal befonds.

Ekonome het die stap as “onlogies en gevaarlik” beskryf en gevra hoe die tekort in die toekoms opgemaak gaan word. Die energiefonds se balans staan op R1 miljard en nou word dit bykans gehalveer. Sou oliepryse bly styg en die rand verder verswak is die kans op verhaling bykans nul.

Bron: Die Vryburger

Kaapstad inwoners se R8,8 miljard rekening

Kaapstad se inwoners skuld die stadsaad meer as R8,8 miljard aan agterstallige water-, elektrisiteits- en belastingrekeninge.

Meer as 23 000 aanmaningsbriewe is in Julie 2018 uitgestuur aan verbruikers. Daar is egter ‘n probleem met die berekening van “sommige” rekeninge aldus Philip Bam van die Kaapstad se Civic Alliance groep.

Stadsraadswerkers en raadslede skuld die stadsraad meer as R20,4 miljoen.

Dit blyk dat hierdie DA beheerde stad, net soos die ANC-beheerde stede, ook nie die vermoë het om die basiese dinge reg te doen of agterstallige gelde te verhaal nie.

Bron: Die Vryburger

Privaat wetsontwerp oor wapens gepubliseer

Die privaatlid-wetsontwerp van die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, wat sekere wysigings voorstel aan die bestaande Wet op Vuurwapenbeheer wat die hernuwing van vuurwapenlisensies sal reguleer, is  in die Staatskoerant gepubliseer.

Dié wetsontwerp is ingedien om oplossings te bring ná die omstredenheid en onsekerheid wat sowat twee maande gelede geskep is met die uitspraak van die Grondwethof oor die geldigheid van die hernuwing van vuurwapenlisensies.

Volgens dr. Groenewald is daar net een uitweg om die probleem op te los, en dit is om die wet só te wysig dat vuurwapen-eienaars ‘n billike geleentheid gebied word om hul vuurwapenlisensies te hernu selfs nadat die lisensie verval het sonder om die eiendomsreg op hul vuurwapens te verloor.

Die kennisgewing in die Staatskoerant lui onder meer (in Afrikaans vertaal): “Die Grondwethof het in die saak van minister van polisie teen die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging bevind dat Artikel 24 van die Wet op Vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000) grondwetlik is. Wat die hof egter nie oorweeg het nie, is die feit dat die wet nie voorsiening maak vir enige metode waardeur die versuim om aansoek te doen vir die hernuwing van ‘n lisensie ten minste 90 dae voor die verstryking van daardie lisensie – ʼn vereiste wat administratief van aard is – wel reggestel kan word nie.

“Die Wetsontwerp poog om ‘n administratiewe oplossing te bied waar ‘n persoon nie betyds aansoek gedoen het vir die hernuwing van ‘n vuurwapenlisensie nie. Sodanige hernuwing moet wel gedoen kan word, alhoewel met ʼn boete. Die beheer van vuurwapens is van integrale belang vir veiligheid en sekuriteit en om hierdie belang te balanseer, bied die Wetsontwerp voorsiening vir grasietydperke waarin aansoek gedoen kan word vir hernuwing.”

Dr. Groenewald sê dit is onaanvaarbaar en onbillik dat vuurwapen-eienaars hul vuurwapens verloor bloot weens ‘n administratiewe oorsig wat reggestel kan word deur ʼn boete te betaal en die lisensies te hernu, en die doel van die wetsontwerp is om dit reg te stel.

Soos die situasie tans daar uitsien, word daar gediskrimineer teen vuurwapen-eienaars deurdat hulle hul eiendom verloor, maar in die geval van ʼn motorlisensie betaal jy net ʼn boete sonder om die eiendomsreg op jou voertuig te verloor.

Bron: Die Vryburger

Weer 

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

 

Warmbad – Mooi weer tot baie warm

Min 21 Max 33

Nelspruit – Mooi weer tot baie warm

Min 19 Max 33

Pretoria – Mooi weer tot warm

Min 17 Max 30

Johannesburg – Bewolk tot warm met los reënbuie plek plek

Min 3 Max 28

Vereeniging – Sonnige dag met los reënbuie in die namiddag

Min 13 Max 30

Rustenburg – Mooi weer tot baie warm

Min 16 Max 33

Bloemfontein – Bewolk en koud met verspreide tot swear reën  

Min 8 Max 28

Kimberley – Bewolk met verspreide reënbuie

Min 6 Max 21

Durban –   Bewolk met motreën plek plek

Min 18 Max 22

Oos London – Bewolk met verspreide reënbuie

Min 11 Max 15

Upington – Bewolk en koud met mot reën plek plek

Min 3 Max 12

Kaapstad – Bewolk en koud met ligte reën plek plek

Min 11 Max 14

Port Elizabeth –   Bewolk en koud met ligte reën

Min 7  Max 13

En laastens

Sutherland – Baie koue dag

Min -1 Max 4



 

Leave a Reply