Potgooi-Nuus & Weer 9:30  3 September 2018  Maandag

Potgooi-Nuus & Weer 9:30 3 September 2018 Maandag

Aangebied deur Yolanda weeksdae om 9:30vm.

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-09-03.092845

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo

 

Nuus

Die Valke het bevestig dat generaal-majoor Senaba Mosipi as waarnemende hoof van sy teenkorrupsie-eenheid aangestel is ná die skorsing van Zinhle Mnonopi. Die voormalige adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas het tydens sy verskyning voor die Zondo-kommissie oor staatskaping gesê Mnonopi het probeer om sy samewerking te kry om ‘n saak teen Ajay Gupta in die kiem te smoor. Jonas het voor die kommissie getuig oor die Guptas se aanbod van 600 miljoen rand en die pos van minister, en dat Mnonopi wou hê hy moet ontken dat die gebeure plaasgevind het sodat die DA se klag in die verband, gesluit word. Die woordvoerder van die Valke, Hangwani Mulaudzi sê die aantygings teen Mnonopi word in ‘n baie ernstige lig beskou. Hy sê ‘n interne ondersoek sal plaasvind, en Opod kan dalk self met ‘n ondersoek na haar begin. Mulaudzi sê indien verdere soortgelyke onthullings gemaak word sal dit ook ondersoek word.

Lede van die vakbond Solidariteit begin more met ‘n staking by Sasol oor ‘n aandeleskema wat uitsluitlik aan swart werkers aangebied word. Die vakbond het in ‘n verklaring gesê ‘n afsonderlike gedeelte van Sasol se bedrywighede sal elke dag lamgelê word as deel van ‘n omvattende strategiese plan. Solidariteit het sesduisend-driehonderd lede by Sasol. Sasol sê hy het gebeurliksheidsplanne ingestel met die oog op die staking.

Die minister van polisie, Bheki Cele, sê die leerplan en die opleiding van nuwe polisielede sal verander word om hulle beter toe te rus vir hulle taak. Cele het by die gedenkgeleentheid vir polisielede wat dood is tydens die uitvoering van hulle pligte gesê meer klem moet gelê word op die polisie se vermoë om aan te pas by situasies, en reg op te tree. Hy het ook gesê daar sal nie genade wees vir diegene wat vir die dood van polisielede verantwoordelik is nie. In die vorige geldjaar is 29 polisielede dood terwyl hulle aan diens was.

Drie vroue wat vermoedelik betrokke is by die kaping van geboue, is in Bellevue Oos in Johanneburg in hegtenis geneem. Die Johannesburgse metroraad se direkteur van forensiese dienste, Lucky Sindane sê die vroue is sedert 2008 by die gebou in dié woonbuurt betrokke. Hulle het blykbaar geweier dat die eienaar toegang tot die gebou kry terwyl hulle dit onderverhuur het. Sindane sê die drie vroue sal in die Hillbrow landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en die oortreding van wetgewing wat verband hou met onwettige uitsettings. Sindane sê die gebou word nou aan die regmatige eienaar teruggegee.

Die DA in die Wes-Kaap sê Metrorail gaan deur die kantoor van die Openbare Beskermer ondersoek word. Die voorsitter van die staande komitee oor Vervoer, Nceba Hinana, sê passasiers wat van Metrorail se dienste gebruik maak, het sedert 2014 met 41 persent gedaal weens die onbetroubaarheid van die diens. Hinana sê daar is net sowat 60 treine wat in bedryf is, in plaas van die vereiste 88. Metrorail het die afgelope maande deurgeloop onder verskeie voorvalle van brandstigting en 32 rytuie is vernietig.

Die LUR vir Vervoer in Limpopo, Makoma Makhuruphetje sê swaar verkeer word vanmiddag verwag op die R71 wat Moria met die N-1 verbind. Sy sê duisende voertuie wat ZCC-pelgrims vervoer, sal ongeveer teen tweeuur met die terugtog begin ná die naweek se kerkdienste. ‘n Gedeelte van die pad sal gesluit word om verkeersvloei na Gauteng te bevorder.

Minstens drie mense is dood in ‘n motorbomontploffing in die Somaliese hoofstad Mogadisjoe. Verskeie mense is in die voorval gewond. Die ekstremistegroep al-Sjabaab het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar. Die slagoffers was veiligheidswagte wat die ingang van ‘n regeringsgebou bewaak het. Die gebou is erg beskadig in die ontploffing. In Oktober verlede jaar is meer as 500 mense in ‘n aanval in Mogadisjoe dood. ‘n AU-Vredesmag is in 2007 ontplooi om die regering by te staan in sy stryd teen die ekstremistiese aanvalle.

 

Winkels in Soweto wat aan buitelanders behoort is steeds gesluit ná die afgelope week se geweld en plundering. Inwoners het winkels geplunder en die buitelanders daarvan beskuldig dat hulle kos verkoop waarvan die vervaldatums reeds verstryk het. Vier mense is in die geweld dood en 27 is in hegtenis geneem in verband met onder meer openbare geweld.

Een persoon is dood en sowat 40 mense is beseer in ‘n brand in die Phumlani informele woongebied in Pelican Park in Kaapstad. Die woordvoerder van die Kaapstadse brandweer, Theo Layne sê 10 huise het afgebrand. Hy sê die die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya het aan die media gesê die hoof van dié eenheid se teenkorrupsie-eenheid, Zinhle Mnonopi, is Donderdag geskors. Die skorsing hou verband met bewerings dat sy met ‘n ondersoek na staatskaping ingemeng het en versuim het om onpartydig op te tree. ‘n Plaasvervanger is reeds in haar plek aangewys. Mnonopi, die derde mees senior lid van die Valke, is deur die voormalige adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas betrek tydens sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Jonas het getuig dat sy probeer het om hom te oorreed om sy verklaring te verander oor die Guptas se aanbod aan hom. Die Guptas het Jonas na bewering miljoene rand en die pos as minister van Finansies aangebied. Jonas het getuig dat hy nie werklik geskok was oor Mnonopi se optrede nie, aangsien die Guptas reeds aan hom gesê het dat hulle alles beheer, insluitend die Valke.

Vlae by al die polisiestasies in die land hang vandag halfstok ter nagedagtenis aan polisielede wat dood is tydens die uitvoering van hulle pligte. Nege en twintig polisielede is tussen April 2017 en Maart vanjaar dood. ‘n Kransleggingsgeleentheid vind later vandag by die polisiegedenkteken by die Uniegebou in Pretoria plaas. ‘n Woordvoerder van die polisie, Athlenda Mathe sê hulde word gebring aan polisielede wat die hoogste prys betaal het om misdaad te bestry en die land te beveilig. Suid-Afrika het duisend eenhonderd ses en veertig polisiestasies landwyd.

Die DA se premierskandidaat in Gauteng, Solly Msimanga, begin môre in Pretoria begin met `n veldtog om na die inwoners se menings te luister. Die veldtog sal op Pretoria se stasie begin en met deur-tot-deur-besoeke in Saulville en Atteridgeville afgesluit word. `n Woordvoerder van die DA in Gauteng, Charity Moyo, sê die veldtog is daarop gemik om na die inwoners se klagtes te luister. Hy sê Msimangsa sal ook luister na wat die inwoners van hul provinsiale regering verwag.

Nederlandse amptenare sê die aanvaller wat Vrydag twee Amerikaners by Amsterdam se hoofstasie aangeval het, het `n terreurmotief gehad. Die polisie het ook hul ondersoek na Duitsland uitgebrei. Die polisie sê nadat hulle die 19-jarige Afghaan met `n Duitse verblyfpermit ondervra het, het dit duidelik geword die aanval as terreur bestempel kan word. Die Duitse polisie het `n klopjag op sy huis uitgevoer en op sekere programme beslag gelê. Die man het die Amerikaners met `n skerp voorwerp gesteek en is deur die Nederlandse polisie gewond. Die twee Amerikaners is in `n bestendige toestand in die hospitaal.

Die Oekraïense staatsveiligheidsdiens sê die man wat probeer reël het dat die Russiese joernalis, Arkadi Babsjenko, vermoor word, is tot vier jaar en ses maade tronkstraf gevonnis. Die saak het heelwat internasionale belangstelling gaande gemaak toe dit bekend geword het dat die joernalis sy eie dood geveins het. Hy het dit met die hulp van die Oekraïense veiligheidsdiens en die man wat sy moord moes reël gedoen. Drie maande na Babsjenko se sogenaamde moord, het die man wat dit moes reël met die veiligdiens begin saamwerk. Boris German het sy vonnis aanvaar en gaan nou verder met die ondersoekspan saamwerk. Die veiligheidsdoens dink dat dit een van `n reeks huurmoorde is wat die Russe in die Oekraïne probeer reël het.

President Cyril Ramaphosa het aan Chinese sakelui gesê beleidsekerheid sal daartoe bydra dat Suid-Afrika ‘n aantreklike beleggingsbestemming word. Hy is op ‘n staatsbesoek aan China en het ‘n sake-ontbyt in Beijing toegespreek. Die geleentheid is ook bygewoon deur ander lede van die Suid-Afrikaanse afvaardiging, insluitend oudpresident Kgalema Motlanthe, die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, en die hoofde van sake-organisaies, Sipho Pityana en en Sandile Zungu. Ramaphosa voer later vandag samesprekings met sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping en ‘n aantal bilaterale ooreenkomste sal onderteken word. China het in Julie aangekondig dat hy sowat 300 miljard rand in Suid-Afrika gaan belê.

`n Drie-en-veertigjarige man is in Mitchell’s Plain op die Kaapse Vlake in hegtenis geneem met tik ter waarde van bykans 500 duisend rand in sy besit. `n Polisiewoordvoerder, Noloyiso Rwexana, sê die polisie het op `n wenk gereageer en `n huis in Woodlands deursoek waar sowat twee kilogram tik gevind is. Die Kaapstadse metropolisie het ook verskeie ander verdagtes in hegtenis geneem, onder meer `n 31-jarige man in die Bo-Kaap weens die besit van tik. Sewe verdagtes is elders in die stad in hegtenis geneem weens die onwettige besit van dwelms, aanranding en diefstal. Die verdagtes verskyn binnekort in die hof.

Die hoofsweep in die Johannesburgse stadsraad het doodsdreigemente wat na bewering deur ‘n ANC-raadslid gemaak is teenoor ‘n raadslid van die DA skerp veroordeel. Die hoofsweep, Kevin Wax, sê die kwessie is by die polisie aangemeld vir ondersoek. Wax sê daar sal intern deur die raad opgetree word, wat kan insluit dat die betrokke raadslid na die Etiekkomitee verwys word vir ondersoek. Volgens hom het die DA raadslid deelgeneem aan ‘n opruimprogram wat deur die burgemeester gelei word, en die ANC-raadslid het beswaar gemaak dat ‘n DA raadslid in sy werk kom werk. Hy het hom toe met die dood gedreig.

Twee mans is in die Caleb Motshabi-woongebied in Bloemfontein dood in wat vermoedelik boendoegeweld was. Die woordvoerder van die Vrystaatse polisie, Thandi Mbambo, een man is met ‘n skerp voorwerp doodgesteek terwyl die ander een vermoedelik deur woedende inwoners aan die brand gesteek is. Mbambo sê twee mans het vermoedelik baklei en ‘n 57-jarige man het tussenbeide probeer tree. Een van die bakleiers het hom met ‘n mes gesteek. Inwoners wat die voorval gesien het, het op die aanvaller toegesak, hom aangerand en aan die brand gesteek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die hoofsweep van die DA, John Steenhuisen sê sy party sal die ANC-parlementslid, Vincent Smth, by die Parlement se Etiekkomitee aankla vir beweerde wangedrag. Volgens mediaberigte het die bestuursmaatskappy Bosasa na bewering die afgelope drie jaar meer as 600-duisend rand aan Smith betaal en veiligheidstoerusting by sy huis geïnstalleer. Smith is die medevoorsitter van die grondwethersieningskomitee, en nuwe voorsitter van die parlement se komitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste. In 2014 was hy voorsitter van die komitee oor Korrektiewe Dienste. Bosasa het fasiliteitebestuurskontrakte met verskeie staatsdepartemente, insluitend Korrektiewe Dienste, ter waarde van sowat tien miljard rand. Steenhuisen sê indien die bewerings waar is, is dit ‘n ernstige skending van die Etiese Kode.

Rugby: Suid-Afrika se twee spanne in die Pro14-reeks het swak weggespring en albei slae gekry. Die Cheetahs het met 0-38 teen Munster verloor, terwyl die Kings met 16-32 teen Zebre van Italië vasgeval het. In die Curriebekerreeks het die tuisspanne die naweek almal verloor. Die WP het die Poemas in Nelspruit met 57-28 geklop, die Sharks het die wedstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein met 33-29 gewen en die Goue Leeus het die Blou Bulle in Pretoria met 38-35 geklop.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

 

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Mooi weer & baie warm

Min 16   Max 33

Nelspruit – Mooi weer & baie warm

Min 13   Max 35

Pretoria – Mooi weer & warm

Min 18   Max 25

Johannesburg – Sonnige dag

Min 14 Max 20

Vereeniging – Mooi weer & warm

Min 12 Max 22

Rustenburg – Sonnige dag

Min 13   Max 26

Bloemfontein – Koel tot matig warm

Min 9    Max 17

Kimberley – Mooi weer tot warm

Min 11 Max 19

Durban – Bewolk met motreën plek plek

Min 17   Max 26

Oos London – Bewolk met motreën plek plek

Min 16   Max 20

Upington – Mooi weer en warm

Min 12 Max 22

Kaapstad – Bewolk en koud met ligte reën plek plek

Min 12 Max 17

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk met verspreide reënbuie

Min 11   Max 18

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk & matig tot warm

Min 2 Max 12


 

Leave a Reply