Potgooi- Nuus 9:30   5 September 2018 – WOENSDAG

Potgooi- Nuus 9:30 5 September 2018 – WOENSDAG

Aangebied deur Yolanda weeksdae om 9:30vm.

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-09-05.092854

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

 

 

Nuus

Graan SA steun grondhervorming

Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA, het aan die regering se grondwetlike ondersoekkommissie gesê die wysiging van die grondwet is nie nodig nie maar daar moet gefokus word op grondhervorming.

Volgens De Villers is die groot probleem dat swart boere nie toegang het tot finansiering nie.

Wat De Villiers volgens landbou kenners vergeet, is dat al die vooruitstrewende plase wat aan swartes gegee is, bankrot gespeel het weens wanbestuur en bedrog.

DA gee toe aan EFF eise

Dit blyk dat die DA burgemeester van Pretoria, Solly Msimanga, toegewings gemaak het teenoor die EFF om sodoende ‘n mosie van wantroue te oorleef.

Die optrede teen stadsbestuurder Moeketsi Mosola oor ‘n onreëlmatige R12 miljard tender prosedure, is op die ys geplaas en blyk een van die eise te wees van die EFF.

So smee politici planne onder die tafel sonder om ag te slaan op kiesers se behoeftes of demokratiese prosedures, en wys die opportunisme van politici ter wille van mag en posisies.

Polisie ‘n veilige hawe vir diefstal en bedrog

Die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (Opod) het aan die Staande Kommittee van Parlementere Rekeninge (Skoor) die massiewe bedrog in die SA Polisie uitgewys.

Die vorige kommissaris van polisie, Kgomotso Phahlane (foto), se beweerde korrupsie beloop R5 miljard.

Verder is daar bewerings van moord en marteling in die Noordwes Provinsie.

Skoor se voorsitter, Themba Godi, sê die polisie het ‘n hawe van korrupsie geword in plaas daarvan om misdaad en korrupsie te beveg.

SAUK se verlies R622 miljoen, regering spring weer in

Seker een van die redes vir die land se resessie is die sogenaamde semi staatsentiteite soos Eskom, Telkom, Sasol, Denel, Transnet en andere, wat almal in ernstige finansiële krisis verkeer.

Die SAUK het ‘n R622 miljoen verlies aangekondig vir die jaar einde 31 Maart 2018. Volgens die SAUK is dit ‘n verbetering op verlede jaar se verlies van R1 miljard.

Die uitsaaier is tegnies bankrot en kan nie sy skulde delg nie . Endemiese vlakke van korrupsie en wanadministrasie gaan glo aangespreek word, aldus die nuwe voorman Bongumusa Makhatini.

Intussen het tesourie ‘n sekuriteit van R1,7 miljard bewillig waarmee die SAUK by banke lenings kan kry om sy propagandistiese pro-regering uitsaaimasjien aan die gang te hou.

 

Metro treine in botsing

Twee treine het net buite die Selby stasie gebots.

Meer as 100 passasiers is beseer maar geen noodlottige ongevalle is aangemeld nie. Sewe van die beseerdes is in ‘n ernstige toestand.

Die oorsaak van die botsing is nog nie openbaar gemaak nie, alhoewel ‘n woordvoerder gesê het dat die ongeluk as gevolg van ‘n menslike fout gebeur het, toe twee treine in teenoorgestelde rigtings op dieselfde spoor gelei is.

Wie die menslike fout begaan het, is verswyg, en geen melding van enige vervolging teen die persoon is tot dusver gemaak nie.

Resessie tref SA, afgradering kan volg

Die lang verwagte resessie het Suid Afrika ‘n tweede keer getref, en daar word nou gevrees dat Suid-Afrika verder afgradeer kan word en dieper in rommelstatus kan insink..

‘n Resessie volg na twee agtereenvolgende kwartale van dalende bruto binnelandse produksie en dui op ‘n langdurige vertraging in ekonomiese aktiwiteite.

Die aankondiging is gemaak deur Risenga Maluleke, die statistikus-generaal in Pretoria.

Die aankondiging het die rand tot sy laagste vlak sedert Junie 2016 laat val en die rand het bo R15 teen die dollar verhandel.

Intussen het Nhlanhla Nene, die minister van finansies, gesê die regering het nie die resessie sien aankom nie en dit is nie as gevolg van die grondsteel aankondiging nie.

Volgens ekonome het die euforie rondom Cyril Ramaphosa hiermee finaal gesterf en selfs sy sogenaamde hulp van Sjina, gaan geen verskil maak nie.

Die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies, mnr. Wouter Wessels, sê die resessie dui op die regering se onvermoë om ekonomiese stabiliteit te bewerkstellig. Met Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers en armoede, kan ‘n resessie nie bekostig word nie.

Mnr. Wessels sê die huidige resessie kan voor die deur van die ANC-regering se onbesonne beleidsrigtings, soos onteiening sonder vergoeding geplaas word. Die onsekerheid wat deur die voorgestelde grondwetwysiging veroorsaak word, strem beleggings en uitbreiding wat kan werk skep en tot ekonomiese groei kan lei.

Die regering se arbeidsbeperkende wetgewing en beleid is verantwoordelik daarvoor dat groot maatskappye eerder hul fabrieke en ondernemings na die buiteland skuif wat tot minder werksgeleenthede in Suid-Afrika lei.

“Daar is ‘n nuwe ekonomiese beleid en rigting vir die land nodig waar vryemark-beginsels geld asook ‘n fiskale beleid wat die staat se finansiële posisie versterk, aanspreeklikheid verseker en ‘n omgewing skep waar die privaatsektor kan groei. ‘n Land waarvan die staatskas bankrot is en waar goeie fiskale dissipline afwesig is, sal nie volhoubare ekonomiese groei geniet nie,” sê mnr. Wessels.

 

Wetenskaplike deurbraak met pynstiller

Wetenskaplikes het ’n reuse deurbraak gemaak met die ontwikkeling van ’n nuwe pynstiller wat nie verslawend is nie.

Die pynstiller wat slegs as AT 121 bekend staan, is nie net besonder kragtig nie, maar werk ook sagter as morfien, met die voordeel dat dit nie verslawend is nie.

Alhoewel die middel nog net op rotte en ape getoets is, blyk dit dat daar geen rede is waarom dit nie suksesvol vir menslike gebruik geregistreer kan word nie.

Tans word die laaste veiligheidstoetse gedoen voor dit vir registrasie gereed gemaak word vir menslike gebruik.

Die verwagting is dat AT121 in die toekoms as alternatiewe middel gebruik kan word vir ander pynstillers wat tot nou as die mees doeltreffende middels gebruik is.

In die VSA alleen is daar reds meer as 600 000 mense wat weens verslawing ’n oordosis van pynstillers gebruik.

Die middel beskik ook oor eienskappe om verligting te bring teen erge gejeuk en asemhalings probleme.

Tifoon ruk Japan tot stilstand

Jebi, ’n kragtige tifoon, het Japan se kus Dinsdag getref en reuse skade aan infrastruktuur en eiendom aangerig wat ondermeer insluit dat verskeie groot vragmotors omgewaai is deur die geweldige stormwind.

Minstens een persoon het omgekom en tientalle het beserings opgedon en moes hospitaal behandeling ontvang.

Die massiewe tifoon het die westelike deel van Japan getref teen die middag, en mense moes inderhaas skuiling soek terwyl vreesaanjaende watergolwe die kus in ’n onbekende toneel verander het.

Dit is die negende tifoon wat Japan vanjaar tref maar ook die hewigste storm wat vanjaar die weskus  getref het.

Stormwind van tot 220 kilometer per uur, het vir ure geduur en mense gedwing om binne in geboue te bly terwyl swaar reën onophoudelik neergegiet het.

Een van die besigste lughawens se aanloopbaan was vir ure onder water, en sowat 180 000 gesinne is sonder elektrisiteit gelaat wat eers na dae  herstel kan word.

Bron: Die Vryburger

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Mooi weer & baie warm

Min 20 Max 33

Nelspruit – Mooi weer & baie warm

Min 20 Max 34

Pretoria – Sonnig & baie warm

Min 19 Max 30

Johannesburg –Sonnige dag

Min 19 Max 27

Vereeniging – Mooi weer & baie warm

Min 19 Max 30

Rustenburg – Mooi weer & baie warm

Min 18 Max 31

Bloemfontein – Sonnige dag  

Min 15 Max 29

Kimberley – Mooi weer & baie warm

Min 17 Max 31

Durban – Mooiweer & baie warm

Min 20 Max 31

Oos London – Sonnige dag

Min 16 Max 21

Upington – Mooi weer & warm

Min 10 Max 23

Kaapstad – Bewolk en koud met verspreide reënbuie  

Min 10 Max 14

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk met motreën plek plek

Min 12 Max 18

En laastens

Sutherland – Bewolk en koud met motreën

Min 2 Max 5


 

Leave a Reply