Potgooi – Nuus en Weer 23 Augustus 2018

Potgooi – Nuus en Weer 23 Augustus 2018

Weeksdae 9:30 Aangebied deur Yolanda

Klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

Nuus

Voorlopige verslag toon weerstand teen grondgryp

Die parlement se grondverhore wat afgehandel is om die publiek se gevoel te toets toon dat 59% van die voorleggings téén die verandering is van die land se grondwet om grondonteiening sonder vergoeding geneem moontlik te maak.

Die parlement het die kommissie opdrag gegee om te bepaal of die verandering van artikel 25 van die Grondwet nodig gaan wees.

Ongeveer 149 000 voorleggings is gedoen waarvan 89 000 teen die verandering van die grondwet is.

Daar word nou met belangstelling afgewag of die regering hom steur aan werklike demokrasie en daarom gehoor sal gee aan bykans 60% van die voorleggings al dan nie.

Bron: Die Vryburger

Agbiz en AgriSA se onderkruipery

Dr. John Purchase die Agricultural Business Chamber (Agbiz), het verklaar dat hy en AgriSA se president, Dan Kriek die vergadering met Cyril Ramaphosa as “vrugbaar” beleef het.

Ramaphosa was glo baie geïnteresseerd tydens die vergadering deur vrae te vra.

Intussen het Omri van Zyl van AgriSA erken dat die probleem rondom grondonteiening sonder vergoeding “nie direk aangespreek is nie”.

Boere meen hulle is steeds in onsekerheid oor hulle grond en verwyt AgriSA dat hulle nie die geleentheid gebruik het om duidelikheid te kry nie maar eerder polities korrek opgetree het in plaas daarvan om vir die boere in die bres te tree.

Intussen het Dan Kriek op Agri Limpopo se kongres gesê dat hy glo dat landbou nou by ‘n keerpunt gekom het en dat sake nou sal verbeter. Hulle sal voortgaan met gesprekke met die regering, en hy sê ander gesprekke is ook aan die gang agter die skerms wat hy nie kan openbaar as gevolg van die sensitiwiteit daarvan, en vra boere om hom daarmee te vertrou.

Bron: Die Vryburger

SA dalk uit Agoa geskop

Die VF Plus se waarskuwing dat Suid-Afrika se lidmaatskap van die Agoa-klub van lande wat handelsvoordele van Amerika ontvang, opgeskort kan word weens onteiening sonder vergoeding, is nou ‘n stap nader aan realiteit, sê dié party se voorsitter, adv. Anton Allberts

Die invloedryke internasionale dinkskrum, die Cato-Instituut, het versoek dat pres. Donald Trump van Amerika, Suid-Afrika se lidmaatskap onder die loep neem weens onteiening sonder vergoeding en die effek daarvan op minderhede.

Onteiening sonder vergoeding is nie toelaatbaar nie in terme van die vereistes van die Agoa-wetgewing. Die VF Plus het met die bekendstelling van sy “SlaanterugSA”-veldtog teen onteiening sonder vergoeding gewaarsku dat Suid-Afrika eindelik sy lidmaatskap en voordele in terme van Agoa kan verloor.

Dit is ook moontlik dat Amerika bestaande regulasies oor die beskerming van die belange van dié land kan gebruik om onmiddellike sanksies teen lede van die Suid-Afrikaanse regering persoonlik in te stel, of nog erger ekonomies-wye sanksies teen die land in sy geheel in te stel indien Amerika sou meen dat Amerikaanse bates in die gedrang kan kom.

Die nuwe Beleggingsbeskermingswet maak bloot voorsiening vir die beskerming van buitelandse beleggers aan die hand van Artikel 25 van die Grondwet.

Dit is die einste artikel waarvan die ANC aan die een kant glo onteiening sonder vergoeding kan reeds plaasvind en hy wil dit in die howe toets, en aan die ander kant wil die ANC dit wysig om onteiening sonder vergoeding sonder onduidelikheid moontlik te maak.

Die effek daarvan is dat buitelandse beleggers van Amerika in die toekoms ook alle bates kan verloor sonder vergoeding. Indien pres. Trump sy blik nou na Suid-Afrika draai, gaan die ANC met hoofbrekens van ʼn oneindige omvang sit wat die ekonomie kan vernietig, sê adv. Alberts.

 Bron: Die Vryburger

Drie Transnet amptenare vra meer tyd

Drie Transnet amptenare met nie-Afrikaner vanne, insluitend die hoofuitvoerende beampte, Siyabonga Gama, het versoek dat hulle meer tyd gegun moet word om te verduidelik hoekom hul nie geskors moet word nie.

Gama, Thamsnaqa Jiyane en Lindiwe Mdletshe is tydelike geskors en tyd gegun tot 13 Augustus om voorleggings te doen.

Drie forensiese toetse deur Transnet toon dat die driemanskap finansiële wette en verkrygingsbeleid oortree het terwyl Gama se MBA ook in twyfel g

 Bron: Die Vryburger

Oud Bosasa baas blaas die fluitjie

‘n Senior Bosasa uitvoerende direkteur het gedreig om grootskaalse korrupsie, afpersing en geldwassery bloot te lê wat oor die afgelope 18 jaar plaasgevind het.

Angelo Agrizzi, vorige hoof operasionele beampte by die Bosasa groep, het die persverklaring gemaak op Dinsdag 22 Augustus.  Volgens hom sal sy verklarings hoëprofiel persone en staatsamptenare, wat tans in diens is van die regering, semi-regeringsinstellings en staatsbeheerde entiteite, blootstel.

Waarom hy 18 jaar wag om nou sy fluitjie te blaas, is vir waarnemers ‘n raaisel.

 Bron: Die Vryburger

Sleg, slegter, dood

Die Gauteng se gesondheidsdienste is op ‘n letterlike sterfbed.

Die departement het bevestig dat daar ‘n uitbraak was van die Klebsiella longontsteking. Dit volg na die dood van twee babas terwyl sewe babas die bakterie opgedoen het in die neonatale eenheid van die Mogoerane Hospitaal in Vosloorus.

Medici bevestig dat toerusting soos ventilators wat nie behoorlik gesteriliseer word nie, die bakterie kan versprei asook personeel wat nie die nodige voorskrifte navolg rondom higiëne nie.

Personeel by die hospitaal eis nou die kop van die hoofuitvoerende beampte van die hospitaal weens laksheid om die uitbraak aan te spreek.

 Bron: Die Vryburger

Munisipale bestuurder “geskors”?

Die Tshwane Metroraad het kennis gegee aan die stad se munisipale bestuurder, Moeketsi Mosola (foto), dat hulle van plan is om hom te skors.

Dit volg nadat hy verbind word by die toekenning van ‘n onreëlmatige tender aan ‘n ingenieursmaatskappy, GladAfrica, ter waarde van R12 miljard.

Dit word as verregaande beskou dat een individu kontrakte kan toeken van sulke atronomiese bedrae.

Mosola het weer op sosiale media die rassekaart uitgehaal en gesê dat ‘n klein groepie witmense hom teiken.

 Bron: Die Vryburger

Totsiens Nike

Nike het tydelik al hulle Suid-Afrikaanse winkels gesluit na ‘n werknemer se man ‘n sogenaamd rassistiese uitlating op ‘n video geplaas het.

Nike se verklaring is dat hulle staan vir “diversiteit, inklusiwiteit en respek”.

Waarnemers is verstom daaroor dat besigheid kamtig geraak word as ‘n werknemer se man sekere uitlatings maak. Die vraag word ook gevra of hulle hul winkels ook sal sluit as swartes sê hul gaan wittes vermoor?

Talle mense het reeds aangedui dat hulle sonder Nike se produkte kan klaarkom aangesien Asics of Adidas steeds op die mark is.

 Bron: Die Vryburger

Eskom se son besig om te daal

Die spreekwoord wat sê: “ As die son sak in die weste is die luiaard op sy beste”, is bewaarheid toe Eskom se bestuur deur die parlementêre komitee huis toe gestuur is weens hul onvoorbereidheid tydens hul verskyning voor die komitee.

Hul optrede is beskryf as van die swakste in vier jaar.

 Bron: Die Vryburger

Agri SA kan nie namens alle boere praat nie

Skynbaar gaan Agri SA vandag met die ANC se sogenaamde top ses vergader om oplossings of duidelikheid te kry oor die kwessie van onteiening sonder vergoeding.

Talle boere is egter ongemaklik daarmee dat Agri SA homself as verteenwoordiger van alle boere kan aanbied by die ANC. In die lig daarvan dat die minister van landbou onlangs vir Agri SA in die openbaar geloof het vir hulle distansiëring van die lys oor plase wat moontlik deur die staat gesteel kan word, is daar kommer dat Agri SA een of ander kompromis ooreenkoms met die ANC kan aangaan, wat die regering meer sal bevoordeel as die landbou gemeenskap.

In ‘n verklaring sê TLU SA se Noordstreek dat hy dit reeds duidelik op rekord gestel het dat geen boer sy grond gesteel het nie, en dat grondeienaarskap regmatig bekom is en daarom wettig is. Om daardie rede sal boere hulle eiendom met alle middele tot hulle beskikking beskerm.

Hulle het ook kennis geneem dat daar beplan word om gesprek te voer met die ANC se Top Ses, oor verskeie landbousake, ten einde bepaalde oplossings te kry.

“Ons wil dit duidelik stel dat TLU SA Noord niemand ‘n ope mandaat gegee het of sal gee om te gaan onderhandel ten einde bepaalde kompromis ooreenkomste te bereik nie,” sê TLU SA Noord se voorsitter, mnr. Henk van de Graaf.

“Die enigste wat mandaat het om namens die lede van TLU SA Noord te praat, is die nasionale topstruktuur van TLU SA, aangesien hulle sterk staan op die beginsel van eiendomsreg, die vryemarkstelsel en hulle onomwonde uitgespreek het teen onteiening sonder vergoeding, of teen vergoeding wat nie markverwant is nie. TLU SA Noord staan vas op hierdie beginsels, en het slegs vertroue in leiers wat onomwonde hierdie beginsels sal verdedig,” sê mnr. Van de Graaf.

 Bron: Die Vryburger

Eerste plaas onteiening in Limpopo

Volgens berigte het die ANC regering reeds opdrag gegee dat ‘n plaas in die verre Noord-Transvaal gesteel moet word.

Dit volg nadat die eienaars die aanbod van R20 miljoen van die hand gewys het aangesien die plaas R200 miljoen werd is.

Die poging van die regering word gesien as ‘n wyse waarop grondhervorming bespoedig gaan word en om die regsgeldigheid van so ‘n poging in die hof te toets.

Gerugte doen nou die rondte dat die ANC-bewind haastig is om ‘n stuk grond te onteien aangesien dit aan die Sjinese aangebied is om ‘n kragstasie te bou. Die steenkool moet gemyn word en die kragstasie gaan skynbaar op 6 000 hektaar naby Tshipise gebou word. Die grond is aan die Sjinese gegee in ruil vir die onlangse “belegging” wat hulle in die land gedoen het. Volgens die ooreenkoms sal die Sjinese die kragstasie self bou en sal daarvoor hulle eie mense, wat ingevoer gaan word, gebruik, ten koste van die plaaslike gemeenskap.

Bron: Die Vryburger

Landbank kan R41 miljard verloor met onteiening

Die voorsitter van die staatsbeheerde Landbank, Athur Moloto, het gewaarsku dat dié bank sy totale portefeulje van R41 miljard kan verloor indien die bank se regte as krediteur nie beskerm word nie.

Die Landbank spesialiseer in die befondsing van kommersiële boere en sou die regering grond neem sonder vergoeding, sal die bank onmiddelik R9 miljard moet terug betaal.

Die Landbank word befonds deur plaaslike en kapitaal markte en sou grondhervorming sonder vergoeding plaasvind, sal die befondsing opdroog wat sal veroorsaak dat die Bank se totale portefeulje van R41 miljard terug betaal moet word. Die Bank sal nie in staat wees om dit te doen nie en die regering sal moet ingryp om die skuld te delg.

 Bron: Die Vryburger

Ramaphosa kry skuld vir Rand se val

Regter Malala sê dat Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die grondkwessie ‘n totale ramp was en sy voortgesette gebrek aan rigtinggewing rondom die kwessie is nog erger.  Hy sê dat politici weet nie wat beteken oorsaak en gevolg nie.

Die Rand het op ‘n stadium verswak tot sowat R15 teen die dollar.  Dit is in skerp teenstelling in Januarie toe die Rand nog teen R12 teenoor die dollar verhandel het en daar die verwagting by alle linkses was dat Ramaphosa die land gaan red.

 Bron: Die Vryburger

Dept. Waterwese en R600 miljoen kontrak

Die reeds bankrot Departement van Waterwese en sanitasie gaan ‘n maatskappy R600 miljoen betaal om ‘n massa water projek te hanteer.

Dit ten spyte daarvan dat ‘n ander maatskappy bereid was om dit te doen vir R278 miljoen.

Dokumente toon dat Pro-Plan Consulting Engineers die ontwerp en toesig van ‘n fase 2 projek in die Noord-Kaap teen R600 miljoen gaan doen.

Nou het Blackhead Consulting die departement hof toe geneem om die kontrak ter syde te stel. Ecsa, (Engeneering Profession Act and the Engeneering council of SA) laat firmas toe om slegs 4% van ‘n totale projek se kostes te hef terwyl Pro-Plan 7,5% hef.

Die webblad van Pro Plan Consulting Engineers openbaar nie wie hulle direkteure is nie.

 Bron: Die Vryburger

Oos-Kaap polisie betrokke by korrupsie

Vyf polisiebeamptes van die Beacon Bay polisie stasie is in hegtenis geneem nadat gesteelde goedere by die stasie gevind is.

Die beamptes het na bewering ‘n trok wat in ‘n ongeluk was “gestroop” van sy inhoud. ‘n Polisie voertuig en taxi is gebruik om die goedere te “vervoer”.

Die hoof van die Valke, luitenant-generaal Godfrey Lebeya, sê dat die polisie ‘n korrupsievrye polisiediens voorstaan.  Dit blyk egter moeilik te wees in die lig van meer as vyf polisie kommissarisse wat reeds vervolg of afgedank is weens korrupte handelinge.

 Bron: Die Vryburger

Finansiële swaarte lê voor

Ekonomiese waarnemers beskou Cyril Ramaphosa se beoogde ekonomiese groei van 3% vir 2018 as onhaalbaar.

Meer as 22 kenners het in ‘n Bloomberg ondersoek getoon dat ‘n 1,4% groei dalk nader aan die kol sal wees.

Die verklaring van ekonome dat slegs “sterk politieke en ekonomiese leierskap”  die ekonomie sal bevorder is ‘n duidelike aanduiding van Ramaphosa se onvermoë om die land se ekonomie om te draai.

Sy grondgryp voorstelle verhinder verder enige beleggings van oorsee wat slegte nuus is vir werkskepping.

Intussen het die moontlikheid van ‘n resessie van 30 % tot 33 % gestyg.

 Bron: Die Vryburger

Uitspraak voorbehou in Estina saak

Uitspraak is voorbehou in die Estina melkplaas bedrog saak teen die Gupta broers se neef en volgelinge.

Agt beskuldigdes het in die Bloemfonteinse hof verskyn waaronder Varun Gupta (foto), Oakbay se hoofuitvoerende beampte, Ronica Ragavan, Ashu Chawla van Sahara, Estina direkteur Kamal Vasram en oud New Age redakteur, Nazeem Howa.

Drie Vrystaatse regeringsamptenare, nl. Sylvia Dlamini, Peter Thabethe en Takisi Masiteng, het saam met hulle in die beskuldigdebank gestaan.

Klagtes wissel van bedrog en diefstal van miljoene rande wat geoormerk was vir arm plaasarbeiders.

Die staat het uitstel gevra vir drie tot ses maande om meer inligting vanuit die Emirate en Indië te verkry terwyl Mike Hellens vir die aangeklaagdes die uitstel teëstaan.

Uitspraak sal Dinsdag gelewer word rondom die uitstel.

Bron: Die Vryburger

Gwede is onkundig

Daar heers verbasing in landbou en politieke kringe oor Gwede Mantashe (foto), voorsitter van die ANC en minister van minerale, se uitspraak dat wit boere se plase beperk moet word tot 12 000 hektaar en die res sonder vergoeding onteien en aan swartes gegee moet word.

Daar word gevra van wanneer af ‘n minister van ‘n ander portefeulje kan inmeng by grondsake, terwyl hy nog nie eens sy eie omstrede mynbou handves kan finaliseer nie.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, sê Mantashe weet nie wat hy sê nie en speel met voedselsekerheid. As ‘n Boer in die Karoo of Kalahari 15 000 hektaar het, terwyl 13 000 hektaar ‘n ekonomiese eenheid is, gaan hy met twee onekonomiese eenhede sit as hy 3 000 hektaar wil wegvat. Niemand gaan daardeur bevoordeel word nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van VF Plus, sê Mantashe se uitlating dien as bewys van die gevaarlike onkunde en die onrealistiese hantering van grond deur die ANC.

“Mantashe se uitlating is ondeurdag en wys dat die ANC self nie weet hoe om onteiening sonder vergoeding te implementeer nie. Dié party gryp nou na grashalms om sy populistiese siening te bevorder deur onrealistiese verwagtinge by sy ondersteuners te skep,” sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald daag die ANC uit om sy volledige planne ten opsigte van onteiening sonder vergoeding sonder verwyl op die tafel te plaas sodat almal kan sien dat dit onrealisties is, die ekonomie nog verder gaan vernietig en voedselsekerheid sonder twyfel in gedrang sal bring.

Bron: Die Vryburger

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – mooiweer tot baie warm

Min 17 Max 31

Nelspruit – bewolk met verspreide reen buie

Min 16 Max 27

Pretoria – mooiweer tot warm

Min 17 Max 26

Johannesburg – mooiweer tot warm

Min 14 Max 24

Vereeniging – sonnige dag

Min 12 Max 5

Rustenburg – mooiweer tot warm

Min 13 Max 27

Bloemfontein – koel in die oggend en n warmer namiddag 

Min 8 Max 19

Kimberley – mooiweer tot warm

Min 11 Max 19

Durban – bewolk met mot reen plek plek

Min 17 Max 19

Oos London – sonnige dag

Min 14 Max 20

Upington – Koel in die oggend en warmer in die namiddag

Min 8 Max 20

Kaapstad – Bewolk en koud met ligte reen plek plek

Min 12 Max 16

Port Elizabeth –   koel tot matig warm

Min 12 Max 17

En laastens

Sutherland – sonnige dag


Min 1 Max 10


 

Leave a Reply