Potgooi Nuus en Weer 22 Augustus 2018

Potgooi Nuus en Weer 22 Augustus 2018

Weeksdae 9:30 Aangebied deur Yolanda

Klik HIER mm weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-08-22.092847

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

 

Nuus

Damvlakke in Kaapstad se opvangsgebied het vir die eerste keer sedert 2016 ‘n gemiddelde vlak van 60-persent bereik. Dit is ‘n aansienlike verbetering op 32 persent dieselfde tyd verlede jaar. Kaapstad kry sy water van ses damme: die Bergriver-, die Boonste en Laer Steenbras-, die Theewaterkloof-, Voëlvlei- en Wemmershoekdamme. Die watervlak van die grootste dam in die Wes-Kaap, die Theewaterskloofdam, het van 25 persent tot 44 persent verbeter.

Die hofsaak van drie Johannesburgse metro-polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op die joernalis, Godknows Nare, is in die Hooggeregshof in Johannesburg uitgestel tot aanstaande Maandag. Lincoln Moloi, Nhlanhla Vilakazi en Thozamile Mhlanga staan tereg op aanklagte van moord, aanranding en regsverydeling. Nare is verlede jaar doodgeskiet tydens ‘n skietvoorval naby sy huis in Florida, wes van Johannesburg. Die drie verdagtes is aangekeer nadat die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat die polisiebeamptes se weergawe ná ‘n ondersoek in twyfel getrek het. Die verhoor sou gister begin het, maar die beskuldiges het meer tyd versoek omdat hulle regsverteenwoordiger nie beskikbaar was nie.

Die Gautengse departement van onderwys het ‘n oproep op ouers gedoen om nie skoolonderrig te ontwrig nie. Dit volg na ‘n betoging deur ouers by die Opelweg-laerskool in Alberton, suid van Johannesburg gister. Die ouers beskuldig die adjunk-skoolhoof en sommige van die onderwysers van korrupsie. ‘n Woordvoerder van die Onderwysdepartement, Steve Mabona, sê hulle sal bewerings ondersoek.

Die polisie in Noordwes ondersoek die dood van ‘n man en sy vriendin, albei polisiebeamptes. Die man het na bewering sy vriendin oor die naweek by haar huis in Meriting geskiet. Sy is by aankoms by ‘n hospitaal in Tlhabane dood verklaar. Haar vriend is later dood in sy kamer in Pretoria gevind. Hy het homself na bewering geskiet.

Die personeel by die Gatwick-lughawe in Engeland moes vluginligting gister vir die grootste deel van die dag met die hand op witborde skryf weens ‘n tegniese probleem met digitale skerms. Vodafone, wat die diens verskaf, sê ‘n beskadigde kabel het die probleem veroorsaak. Die lughawe sê ‘n paar mense het hul vlugte gemis, maar duisende het betyds vertrek en geen vlugte is gekanselleer nie. Die lughawe se webtuiste is ook geraak deur die onderbreking van byna agt uur.

Die Landbank het gewaarsku dat onteiening sonder vergoeding tot slegte skuld van 41 miljard rand kan lei indien die bank se regte as krediteur nie beskerm word nie. Die Landbank verskaf lenings en finansiële dienste aan die landbousektor en landbou-ondernemings. Die Bank het in sy Jaarverslag gesê indien wanbetaling plaasvind weens onteiening sonder vergoeding, sal die bank sy eie krediteure moet terugbetaal en hy kan dit nie bekostig nie. President Cyril Ramaphosa het vroeër gesê die ANC gaan voort met planne om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Sommige beleggers het hulle kommer uitgespreek dat die ANC se grondplanne daartoe kan lei dat die ekonomie soos dié van Zimbabwe vroeër, vernietig kan word.

President Ramaphosa het intussen weer die landbousektor verseker dat onteiening van grond sonder vergoeding op ‘n wettige wyse sal plaasvind. Hy het die Afrika boere-vereniging, AFASA in Kempton Park toegespreek. Ramaphosa het reeds herhaaldelik gesê onteiening sal op ‘n wyse plaasvind wat nie voedselsekerheid of die ekonomie benadeel nie. Hy sê ‘n duidelike beleid rondom grondhervorming in die land, is dringend nodig. Hy sê die driedaagse AFASA-konferensie volg terwyl daar pogings is om verwarring te skep oor hoe grondhervorming in werking gestel gaan word.

Werknemers van televisiestasie Afro Worldview, wat vroeër as ANN7 bekendgestaan het, is die opsie gegee om nie vandag vir werk aan te meld nie. Dit volg nadat ‘n woordvoerder van MultiChoice, Kenneth Nxumalo bevestig het dat die stasie vanaf middernag gisteraand nie meer op die DSTV-platform uitgesaai word nie, omdat die kontrak verval het. Die stasie is sedert 2013 op DSTV uitgesaai. Die voorsitter van Afrotone Media Holdings wat die stasie besit, Mzwanele Manyi, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die Appèlhof in Bloemfontein sal na verwagting vandag uitspraak lewer in die appèlsaak van die voormalige Noord-Kaapse voorsitter van die ANC, John Block, en sy sakevennoot, Christo Scholtz. Die twee het appèl aangeteken teen gevangenisstraf van 15 jaar wat die Hooggeregshof in Kimberley vir geldwassery en korrupsie opgelê het. Block en Scholtz, die uitvoerende hoof van Trifecta Investments, was betrokke by die verhuring van kantoorruimte aan die Noord-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling teen opgeblase pryse. Hulle is uit op borgtog van 150-duisend rand elk.

Die LUR vir Paaie en Vervoer in die Oos-Kaap, Weziwe Tikana, sal na verwagting vandag Matatiele besoek waar protesoptrede die afgelope week tot groot skade gelei het. Drie staatsvoertuie en ‘n kantoor van die departement van Openbare Werke met belangrike dokument by Maluti, buite Matatiele is afgebrand. Inwoners betoog oor die swak paaie. Die inwoners sê hulle kla al sedert 2012 en sê die regering het nie hul beloftes nagekom nie. Die Oos-Kaapse premier, Phumullo Masualle, het sy kommer uitgespreek oor die skade aan eiendom en ‘n oproep gedoen dat die situasie vinnig opgelos word.

Die vakbond Numsa dreig met massaoptrede indien studente wat tydens betogings oor universiteitsgeld in hegtenis geneem is, nie vrygelaat word nie. Numsa eis ook dat die aanklagte teen die studente onvoorwaardelik teruggetrek word. Die woordvoerder van Numsa, Phakamile Hlubi-Majola, sê die vakbond is geskok omdat sommige van die studente steeds aangehou word, en dat van die studentebetogers skuldig bevind is omdat hulle vir die reg op gratis onderwys geveg het. Sy sê indien die ANC-regering grond en minerale hulpbronne genasionaliseer het, sou die land gratis hoër onderwys kon bekostig. Hlubi-Majola sê nou word die werkersklas gestraf omdat hulle deur hoër belasting gedwing word om vir onderwys te betaal.

Die Poskantoor sê daar is steeds ‘n reuse agterstand in die aflewering van pos weens ‘n staking van poskantoorwerkers verlede maand. Volgens die Poskantoor moet meer as 30 miljoen posstukke nog uitgesorteer word en sal die agterstand eers einde September uit die weg geruim word. Die bedryfshoof, Lindiwe Kwele sê terwyl hulle aan die agterstand werk moet meer as ‘n miljoen nuwe posstukke ook daagliks verwerk word.

Die DA in die Wes-Kaap sê hy is daartoe verbind om regstellende stappe te doen ná ‘n verslag van die Ouditeur-Generaal. Volgens die verslag wat verlede week uitgereik is, het munisipaliteite in die provinsie swakker finansiële resultate getoon in die vorige geldjaar. Die voorsitter van die staande komitee oor plaaslike regering in die Wetgewer, Masizole Mnqasela, sal stappe gedoen word volgens die aanbevelings van die Ouditeur-Generaal. Mnqasela sê in weerwil daarvan dat sommige munisipaliteite swakker gevaar het, het die provinsie steeds die meeste skoon oudits in die land.

Die minister van Kommunikasie, Nomvula Mokonyane en die bestuur van die SAUK verskyn vandag voor die parlement se komitee oor Kommunikasie. Hulle sal die komitee inlig oor die openbare uitsaaier se regrukstrategie, sportregte en die nie-betaling van onafhanklike vervaardigers. Hulle sal na verwagting ook reageer op klagtes wat vakbonde by die komitee ingedien het oor verskeie arbeidskwessies by die SAUK.

Die minister van Energie, Jeff Radebe en sy departement verskyn vandag voor die parlement se komitee oor Energie, nadat hulle nie verlede week opgedaag het vir ‘n vergadering oor die brandstofpryse nie. Die minister was in die buiteland, maar nóg die adjunkminister nóg die verteenwoordigers van die departement het opgedaag. Radebe moet die komitee inlig oor sy departement se planne om die brandstofpryslas op verbruikers te verlig. Die parlement hervat vandeesweek sy werksaamhede ná die winterreses.

Verskeie ontploffings is aangemeld in die Afghaanse hoofstad Kaboel. Volgens ‘n veiligheidswoordvoerder is die ontploffings veroorsaak deur vuurpyle wat van buite die stad afgevuur is. Sommige het naby regerings- en diplomatieke geboue en die presidentswoning geval. Geen berigte van ongevalle is aangemeld nie. Die president, Ashraf Ghani het twee dae gelede ‘n eensydige skietstaking met die Taliban afgekondig. Die Taliban het dit blykbaar verwerp.

Die getal migrante wat die grens na Brasilië oorsteek weens die ekonomiese krisis in Venezuela styg steeds, ten spyte van Saterdag se aanval op migrante-kampe by die grens. Daar is hernude onsekerheid in Venezuela nadat nuwe banknote uitgereik is om hiperinflasie te bekamp. Die regering het vyf nulle van die geldeenheid verwyder en dit verbind met ‘n nuwe virtuele geldeenheid, die petro. Bykomende veiligheidspresoneel is intussen na grensgebiede in Brasilië gestuur nadat migrante die naweek by die dorp Pacaraima verjaag en hul besittings aan die brand gesteek is. Die staatsregering het vroeër gevra dat die grens tydelik vir migrante gesluit word, omdat maatskaplike dienste oorweldig word. Die Brasiliaanse Veiligheidsminister sê egter dit is ondenkbaar en onwettig om die grens te sluit. Ander lande in die streek, insluitend Colombië, Ecuador en Peru sê hulle sukkel om die instroming van migrante uit Venezuela te hanteer.

Die Media Instituut van Suider-Afrika in Zimbabwe, gaan die hof vra om ander media toe telaat om die verrigtinge in die Konstitusionele Hof in Harare, regstreeks oor die internet te kan uitsaai. Die Zimbabwiese Uitsaaikorporasie het die alleenreg op die uitsending en vra ander uitsaaiers tussen vyfduisend-500 en 13-duisend-500 Amerikaanse dollar per dag. Die Zimbabwiese president, Emmerson Mnangagwa, wie se afgelope verkiesingsoorwinning in die hof betwis gaan word, opponeer ook die aansoek deur ander media.

Die groephoof van navorsing by die Inkomstediens, Randall Carolissen sê die herstruktureringsmodel wat die geskorste kommissaris, Tom Moyane ingestel het, het daartoe gelei dat talle ervare personeellede hulle poste kwyt is. Carolissen het by die Kommissie van Ondersoek na die SAID getuig, wat vanoggend met sy sittings begin het. Hy sê van die personeel kon ook nog nie ander werk kry nie weens skade aan die Inkomstediens se reputasie die afgelope paar jaar.

In getuienis voor Staatskapingkommissie, het die waarnemende hoofverkrygingsbeampte van die Tesourie, Ndleleni Mathebula, die proses in die verskaffingsketting aan die regering verduidelik en gesê die regering bestee jaarliks meer as 800 miljard rand aan goedere en dienste en dat daar soms ongerymdhede in dié prosesse plaasvind.

`n Volbank regters van die Pretoriase Hooggeregshof het uitspraak voorbehou in die aansoek teen die NG Kerk oor gay-diskriminasie. Dominee Laurie Gaum het ‘n sinodebesluit betwis wat die voltrekking van gay-huwelike in die kerk, nie meer gaan toelaat nie. Sy regsverteenwoordiger, Jeremy Gauntlett, het die Sinode se besluit om sy erkenning van gay-persone en gay-verhoudings op te hef, bevraagteken. Die Kerk se regsverteenwoordiger, advokaat Schalk Burger het betoog dat die sinode hom laat lei het deur die kerk se grondwet en tradisies. In November 2016, het ‘n buitengewone vergadering van die NG Kerk se sinode die Gay- en Lesbiese gemeenskap geskok toe hulle hul besluit om verhoudings van mense van dieselfde geslag van 2015, omgekeer het.

Die regering het ‘n span tegniese kenners aangestel om oplossings te vind om die brandstofprys te verlaag. Die minister van Energiesake, Jeff Radebe het aan die Parlement se Portefeuljekomitee oor Energie gesê die span se taak sal na verwagting einde September voltooi wees, waarna die parlement en publiek oor hul bevinding ingelig sal word. Die komitee wou antwoorde hê oor die skerp stygende brandstofprys wat motoriste, verbruikers en pendelaars uiters benadeel. Radebe sê hulle het reeds begin met die hersiening van die brandstofprysstruktuur, en sal ondersoek instel of enige wysigings aangebring kan word.

Die SAUK se bestuurshoof, Madoda Mxakwe het aan die Parlement se Portefeuljekomitee oor Kommunikasie gesê dringende ingryping is nodig om die korporasie met sy huidige geldelike krisis te help. Hy sê hoewel daar tans omvattende kostebesparings plaasvind, kan die uitsaaier nie sy werksaamhede en mandaat behoorlik uitvoer nie. Mxakwe, en SAUK-raadslede en senior bestuur het voorleggings aan die komitee gedoen. Dit het aan die lig gekom dat die SAUK teen maandeinde slegs 26-miljoen rand in sy bankrekening sal hê. Mxakwe het beklemtoon dat geldelike ingryping dringend nodig is.

Die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping in Johannesburg se sittings is tot Vrydag verdaag. Die kommissie het gister met sy werksaamhede begin. Die waarnemende hoofverkrygingsbeampte van die Tesourie, Ndleleni Mathebula, was vandag die eerste getuie. Hy het ‘n somber prentjie geskets van die misbruik van verkrygingsprosesse in sommige staatsdepartemente. Die kommissie se volgende getuie is vermoedelik die voormalige adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas wat glo die pos van Minister van Finansies aangebied is, asook ‘n reuse bedrag geld deur een van die Guptabroers.

Die rand het teenoor die Amerikaanse dollar verstewig. Die rand het onlangs tot 15-rand-40 teenoor die dollar verswak weens die geskil tussen Amerika en Turkye wat alle ontluikende markte nadelig geraak het. Die geskil handel oor Amerikaanse sanksies teen Turkye oor die aanhouding van `n Amerikaanse pastoor. Die rand het vanmiddag herstel tot 14-rand-44 teen die dollar. Die ekonoom van die IG-groep, Martin Harris, sê die geldeenheid het verstewig te midde van die verdere verswakking van die Turkse lira. Dit beteken dat internasionale beleggers weer belangstel in ander ontluikende ekonomieë. Harris het dit as `n goeie teken vir die rand bestempel.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – mooiweer tot warm

Min 13 Max 27

Nelspruit – mooiweer tot warm

Min 12 Max 15

Pretoria – mooiweer tot warm

Min 11 Max 26

Johannesburg – mooiweer tot warm

Min 11 Max 23

Vereeniging – regstreeks n sonnige dag

Min 12 Max 24

Rustenburg – mooiweer tot warm

Min 12 Max 27

Bloemfontein – regstreekse houe dag 

Min 7 Max 14

Kimberley – koel in die oggend met matig warm in die namiddag

Min 9 Max 15

Durban – bewolk tot matig warm

Min 14 Max 19

Oos London – bewolk en koud met verspreide reen buie plek plek

Min 12 Max 17

Upington –     bewolk en koud

Min 8 Max 16

Kaapstad – bewolk met verspreide tot swaar reen  plek plek

Min 11 Max 15

Port Elizabeth – Koue dag

Min 7 Max 15

En laastens

Sutherland – baie koue dag

Min -4 Max 5


 

Leave a Reply