Potgooi-Nuus en Weer 21 Augustus 2018

Potgooi-Nuus en Weer 21 Augustus 2018

Aangebied deur Yolanda weeksdae om 9:30 (CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-08-21.092904

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel active

Nuus

Die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid bied ‘n beloning van 100-duisend rand aan vir enige inligting wat lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die moordenaars van polisiebeamptes in die provinsie. Die Wes-Kaapse minister vir gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, sê hy glo misdadigers teiken die polisie vir hulle dienswapens. Plato het die jongste aanvalle op twee polisiebeamptes in Delft en Khayelitsha skerp veroordeel. Konstabel Lonwabo Kili is vermoor terwyl hy van diens af was en Konstabel Siyamcela Ncipa is in Khayelitsha op kort afstand doodgeskiet. Albei beamptes se wapens is gesteel. Die Valke het ‘n grootskaalse soektog van stapel gestuur.

Die ANC in die Oos-Kaap het onderneem om ‘n kultuur van aanspreeklikheid te kweek in die gebiede onder hul bestuur. Dit is besluit by ‘n tweedaagse lekgotla wat die naweek in Oos-Londen gehou is. Die vergadering was daarop gemik om die ANC se vertoning in sekere munisipaliteite te beoordeel. Die provinsiale sekretaris, Lulama Ngukayithobi, sê hulle het ernstige probleme geïdentifiseer in die Enoch Mgijima-, Mnquma- en Port St Johns-munisipaliteite wat pro-aktief hanteer moet word.

Die betrokkenes wat bevoordeel moes word in die multimiljoenrandse Estina-plaasprojek in Vrede, eis nou grond vir weiding. Hulle sê hulle moes hul beeste verkoop ingevolge die kontrak met die provinsiale departement van landbou. Irene Thwala het namens die werkers gesê hulle is werksgeleenthede by ‘n kaasfabriek beloof, maar dit het nie gerealiseer nie. Twhala sê hulle vra nou grond langs die Estina-plaas wat vir weiding gebruik kan word.

Die Afgaanse president, Ashraf Ghani, het tydens Onhanklikheidsdagvieringe ‘n voorlopige skietstilstand van drie maande met die Taliban verklaar, maar sê dit sal slegs gehandhaaf word indien die Taliban hom daartoe verbind. Die aankondiging volg in aanloop tot die jaarlikse Moslemfees, Eid al-Adha. Verlede week het grootskaalse gevegte regdeur Afghanistan voorgekom, met ‘n hewige aanval deur die Taliban in die Ghazni-provinsie waartydens meer as 150 soldate dood is. President Ghani se aanbod vir ‘n skietstilstand volg te midde van oproepe van geestelike leiers en burgerlikes om dit tydens die feestydperk te staak. Dit is onduidelik of die Taliban die aanbod aanvaar het.

Die langverwagte ondersoek na Staatskaping begin vandag in Parktown, Johannesburg. Die Parlementêre komitees van Binnelandse Sake, Minerale Hulpbronne, Vervoer en Openbare Ondernemings is verlede jaar aangesê om ondersoek in te stel na staatskaping. Slegs die komitee oor Openbare Ondernemings het met ‘n behoorlike ondersoek begin, wat inligting aan die Kommissie van Ondersoek oorhandig het. Die Kommissie is ná ‘n Hooggeregshofuitspraak verlede jaar deur die voormalige president Jacob Zuma aangestel. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het adjunkhoofregter, Raymond Zondo aangewys as voorsitter van die kommissie. Staatskaping se verliese vir die land word op sowat 100 miljard rand beraam.

‘n Hoëvlak-afvaardiging van die ANC se nasionale werkkomitee onder leiding van President Cyril Ramaphosa sal na verwagting vandag by Hartebeespoortdam vergader met die ANC se uitvoerende komitee in Noordwes. Die vergadering volg na vergaderings in drie streke oor die naweek, waartydens lede hul ontevredenheid uitgespreek het met die provinsiale uitvoerende komitee. Die nasionale werkkomitee het met die takke by Bojanala in Rustenburg, die Kenneth Kaunda-streek by Klerksdorp en Ngaka Modiri Molema by Mahikheng vergader. Al die streke gaan gebuk onder onderlinge geskille. Hulle beskuldig ook die voorsitter, Supra Mahumapelo, daarvan dat hy net erkenning verleen aan takke wat hom ondersteun en hul leiers. Daar is ook ‘n oproep dat die provinsiale uitvoerende komitee ontbind moet word.

Die DA-burgemeester in die Tshwane Metro in Pretoria, Solly Msimanga, wat as premierskandidaat vir Gauteng in die komende verkiesing gaan staan, sê die DA ondersteun privaat eiendomsbesit asook die ordelike toekenning van grond ná ‘n grondoudit. Dit volg te midde van die ANC wat grondonteiening sonder vergoeding steun. Die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee is ná landwye sittings besig om sy bevindings te finaliseer oor moontlike wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet. Msimanga sê gewone mense, en nie die staat nie, moet grond besit….

Die saak van die #FeesMustFall-aktivis, Mcebo Dlamini, sal na verwagting vanoggend in die landdroshof in Johannesburg begin. Dlamini word aangekla van kwaadwillige saakbeskadiging, openbare geweld en ander oortredings. Hy is in Oktober 2016 in hegtenis geneem. Skade van bykans 800 miljoen rand is aangerig aan kampusse landwyd tydens die #FeesMustFall-protesaksie wat in 2015 begin het. Tydens sy laaste hofverskyning op 30 Julie, het die staat gesê dat hy twintig nuwe getuies het.

Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, CASAC, sê dit is in oudpresident Jacob Zuma se beste belang om vrywillig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn. Daar is vroeër bevestig dat die kommissie ‘n uitnodiging aan Zuma gerig het. Die kommissie onder voorsitterskap van adjunkhoofregter, Raymond Zondo, begin oor sowat ‘n uur met hul werksaamhede in Parktown, Johannesburg. Voorleggings en administratiewe kwessies sal na verwagting eers afgehandel word. Dit is onduidelik wanneer die eerste getuies gaan verskyn. Hulle is vermoedelik die voormalige adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas en ‘n voormalige ANC-parlementslid, Vytjie Mentor. CASAC se uitvoerende sekretaris, Lawson Naidoo, sê antwoorde is nodig oor of Zuma geweet het van die kabinetsposte wat die Gupta-broers glo aan Jonas en Mentor aangebied het.

Die hofsaak van drie polisiebeamtes van die Shongweni honde-eenheid begin vandag in die Durbanse Streekhof. Die beamptes, Sipho Masango, Bhekani Dladla en Musawenkosi Khwela het na bewering hulle honde losgelaat op twee mans. Die slagoffers het ernstige beserings opgedoen. Die beamptes het na bewering ook een van die slagoffers gedwing om sy familielede te kontak en te vra dat geld in een die beamptes se bankrekeninge inbetaal word. Die beamptes ontken skuld op aanklagte van aanranding en afpersing. Hulle is vroeër borgtog geweier.

Die Parlement se portefeulje komitee oor Water en Sanitasie het sy skok uitgespreek oor die toestand van die Vaalrivier. Die komitee het verlede week die Sedibeng-munisipaliteit in die Vaaldriehoek besoek om die omvang van die rioolbesoedeling in die Vaalrivierstelsel te bepaal. Die voorsitter van die komitee, Mlungisi Johnson sê munisipaliteite moet dringend kyk na maniere om te verseker dat die besmette water skoongemaak word. Hy sê die Johannesburg- en Ekurhuleni-munisipaliteite moet ook daarby betrokke raak, aangesien hulle ook afval in die stelsel laat beland.

Die N2-hoofweg tussen Edwin Swales en die Spaghetti-kruising in Durban is weer oop vir verkeer nadat betogers vroeër die pad met brandende bande en rommel versper het. Verkeer word egter steeds vertraag. ‘n Woordvoerder van die Durbanse Metropolisie, Parboo Sewparsad sê gemeenskapslede het betoog om te verhoed dat hulle plakkershuise, wat langs die hoofweg gebou is, gesloop word. Hy sê 20 betogers is verlede week vir openbare geweld in hegtenis geneem.

Sowat 22-duisend mense wat deur vloedwater in die Indiese staat Kerala vasgekeer was, is gister gered nadat moesonreën begin afneem het. Rampreaksie-spanne, weermagspanne en plaaslike vissermanne kon intussen gebiede bereik wat die ergste deur oorstromings geraak is. Helikopters het ook voorrade afgelewer aan gemeenskappe wat deur die oorstromings en reën van die buitewêreld afgesny is. Minstens 30 liggame is gevind. Volgens berigte het die dodetal sedert die begin van Junie toe die moesonseisoen begin het reeds tot meer as 400 gestyg. Dit sluit in meer as 200 mense wat sedert 8 Augustus in oorstromings en modderstortings dood is. Meer as 700-duisend mense woon tans in hulplenigingskampe, en rampbestuurowerhede sê hulle tref voorbereidings vir moontlike uitbrekings van siektes in dié kampe.

Rampbestuurowerhede in Indonesië sê minstens tien mense is dood en tientalle is beseer in die jongste aardbewings naby die eiland Lombok. ‘n Reeks aardbewings het die gebied weer gister getref. Die eerste aardbewing, met ‘n seismologiese meting van ses-komma-drie, het grondstortings en wydverspreide paniek tot gevolg gehad. Dit is twaalf uur later gevolg deur ‘n aardbewing van ses-komma-nege met nog minstens vyf naskokke. Die eiland herstel steeds van twee verwoestende aardbewings einde Julie en aan die begin van die maand, waarin bykans 500 mense dood en derduisende haweloos gelaat is.   Henri van Breda se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis, is in die Kaapstadse Hooggeregshof van die hand gewys. Van Breda is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op sy ma, pa en broer in Januarie 2015. Regter Siraj Desai sê die verdediging het geen dwingende redes verskaf waarom die appèl aangehoor moet word nie.

‘n Drie-en-twintigjarige man van Elsiesrivier in Kaapstad is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Die polisie sê dit volg na ‘n skietvoorval in 14de Laan. ‘n Polisiewoordvoerder, Noloyiso Rwexana sê die polisie het die verdagte agternagesit nadat hy van die toneel gevlug het met ‘n vuurwapen. Hy sal later vandag in die Goodwood Landdroshof verskyn.

Die Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap het motoriste en toeriste gewaarsku om versigtig te wees op die R532 by Moremela naby Graskop. Inwoners van Moremela betoog vandag en het die pad met klippe versper. Die bestuurder van die Blyderiverspoort-natuurreservaat, Nomcebo Kunene sê ‘n aantal busse wat toeriste vervoer, moes weens die protesoptrede omdraai.

‘n Lasbrief vir die inhegtenisneming van die studente-aktivis, Mcebo Dlamini is vroeër uitgereik en daarna gekanselleer, nadat hy laat was vir sy verhoor in die Johannesburgse Landdroshof. Dlamini word aangekla van onder meer openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging tydens die FeesMustFall-protesoptrede. Hy is in Oktober 2016 in hegtenis geneem. Die saak is uitgestel tot 3 September. Dlamini sal dan moet verduidelik waarom hy vandag laat was en ‘n doktersbrief verskaf vir ‘n vorige hofverskyning waar hy nie opgedaag het nie. Dlamini sê hy was vanoggend 15-minute laat omdat hy steeds moeg was nadat hy Vrydag van Johannesburg na die Uniegebou in Pretoria gestap het. Hy het ‘n memorandum aan die Presidensie oorhandig waarin hy vra dat alle aktiviste wat tydens die studenteoproer in hegtenis geneem en skuldig bevind is, kwytskelding kry.

‘n Man is gewond in ‘n verbyry-skietvoorval in Goodwood in Kaapstad. Die man, wat in sy laat dertigs is, is hospitaal toe geneem met skietwonde in sy maag, rug en been. Die polisie is steeds op die toneel. Volgens ooggetuies het die man uit sy huis gekom toe die aanvaller verbygery en verskeie skote afgevuur het. Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie.

Die Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap het motoriste en toeriste gewaarsku om versigtig te wees op die R532 by Moremela naby Graskop. Inwoners van Moremela betoog vandag en het die pad met klippe versper. Die bestuurder van die Blyderiverspoort-natuurreservaat, Nomcebo Kunene sê ‘n aantal busse wat toeriste vervoer, moes weens die protesoptrede omdraai en ander roetes soek om hul bestemmings te bereik.

Die gemiddelde vlak van damme in die Wes-Kaap het tot 53-komma-vyf persent gestyg. Dit is aansienlik beter as die valk van 31 persent dieselfde tyd verlede jaar. Die vlak van die grootste dam in die provinsie, die Theewaterskloofdam, is besig om al nader na die 50-persent-kerf te styg. Die woordvoerder vir die provinsie se ministerie van Omgewingsake, James-Brent Styan, sê dié stygings is goeie nuus. Hy sê kommer bestaan egter oor damme in die opvangsgebied van die Gouritsrivier, wat water aan die Karoo lewer.

 

nkomstediens word môre in Pretoria hervat. Die sitting handel oor die geskorste hoof van die SAID, Tom Moyane, se bestuur van die diens. Die sitting sal van môre tot Vrydag duur en weer van die 28ste tot die 31ste van die maand. Drie getuies sal na verwagting van môre af getuienis lewer. President Cyril Ramaphosa het vroeër opdrag gegee vir die ondersoek in ‘n poging om die SAID weer te stabiliseer en vertroue in die instelling te herstel.

‘n Mantel van geheimhouding is getrek oor die beweerde klopjag op die sakeperseel van Adriaan Snyman, lyfwag van die die EFF-leier, Julius Malema. Luidens berigte is die klopjag op Snyman se huis in die Bluff, suid van Durban uitgevoer. Nié die polisie óf die Valke wou die berigte bevestig nie. ‘n Verteenwoordiger van Snyman se onderneming, Tactical Security Services, wou ook nie kommentaar lewer nie. Die beweerde klopjag hou skynbaar verband met ‘n video op sosiale media waarin Malema tydens ‘n saamtrek in die Oos-Kaap skote met ‘n aanvalsgeweer vuur. AfriForum het vroeër klagte teen Malema en Snyman gelê.

Die bekende aktrise en skrywer Lerina Erasmus is vanmiddag in die ouderdom van 71 jaar in Johannesburg na ‘n stryd teen kanker dood. Sy het drama bestudeer aan die Universitet van Pretoria saam met tydgenote soos Katinka Heyns, Sandra Prinsloo en George Ballot. Erasmus het talle radiodramas en televisiereekse geskryf, onder meer die gewilde Mannheimsage. Sy laat haar man, Günther Schmikal, en ‘n seun, Stefan-Pieter, agter.

 

 

‘n ANC-raadslid van Oudtshoorn in die Klein Karoo het vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van moord. Magdaleen Titus het na bewering mans gehuur om haar man, Preston, te vermoor. Hy is verlede jaar in Desember dood gevind by die Weermagbasis waar hy gebly het. Titus het in die hof verskyn saam met haar vriendin, Natasha Stuurman, wat ook by die moord betrek word. Hul saak is tot 3 Oktober uitgestel. Drie ander verdagtes word aangehou. Een is reeds gevonnis nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Titus is uit op borgtog van 30-duisend rand.

Die departement van Finansies in Limpopo het ‘n maatskappy aangestel om ‘n forensiese ondersoek te doen na ongerymdhede by tien munisipaliteite wat in die beleërde VBS-bank belê het. Die Reserwebank het VBS onder kuratorskap geplaas nadat beweerde korrupsie en bedrog vroeër vanjaar aan die lig gekom het. ‘n Regeringswoordvoerder in Limpopo, Phuti Seloba, sê die uitvoerende raad eis optrede teen munisipale amptenare wat die wet oortree het. Seloba sê hulle vra dat die ondersoek bespoedig word.

Die Kommissaris van Polisie in die Wes-Kaap, Khombinkosi Jula, sê hy hoop die veroordeelde moordenaar en kinderverkragter, Yagyah Robyn, se swaar straf sal ander voornemende misdadigers afskrik. Robyn is tot dertig jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van en moord op sy 14-jarige niggie, Cameron Britz, verlede jaar in Ocean View in die Kaapse Skiereiland. Robyn, wat 19 jaar oud was tydens die moord, is in die Hooggeregshof in Kaapstad tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir moord en nog 10 jaar vir verkragting.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

 

Warmbad – mooiweer tot warm

Min 17 Max 30

Nelspruit – mooiweer tot baie warm

Min 16 Max 32

Pretoria – mooiweer tot warm

Min 19 Max 29

Johannesburg –       sonnige dag

Min 16 Max 24

Vereeniging – mooiweer tot warm

Min 17 Max 26

Rustenburg –  mooiweer tot warm

Min 15 Max 28

Bloemfontein – mooiweer tot matig warm

Min 12 Max 23

Kimberley – mooiweer tot warm

Min 12 Max 26

Durban – gedeeltelik bewolk tot warm met mot reen plek plek

Min 13 Max 21

Oos London – bewolk met verspreide reen buie

Min 16 Max 18

Upington –     gedeeltelik bewolk en koud

Min 10 Max 24

Kaapstad – gedeeltelik bewolk met verspreide reen buie plek plek

Min 12 Max 16

 Port Elizabeth –   bewolk en koud met verspreide tot swaar reen buie

Min 13 Max 17

En laastens

Sutherland – baie koud met sneeu van 5mm word verwag

Min -2 Max 1

Dit is die einde van vanoggend se nuus en weer berig


 

Leave a Reply