Potgooi – Nuus en Weer 1 Augustus 2018

Potgooi – Nuus en Weer 1 Augustus 2018

Weeksdae om 9h30 Aangebied deur Yolanda

Klik HIER om weer te luister

 

Hooftrekke

 

Die verloop van gister se verkiesing in Zimbabwe kan reeds vandag duideliker wees hoewel dit blyk dat die 70-jarige Emmerson Mnangagwa van die regerende Zanu PF party, en die 40-jarige Nelson Chamisa van die MDC, die sterkste mededingers is. Die amptelike uitslag word eers teen die naweek verwag. Daar is gisteraand met die stemtellery begin nadat stemlokale om seweuur gesluit het. By sommige lokale is stembriewe deurnag by lanterns en kerse getel. Aanduidings is dat dit ‘n kop-aan-kop stryd tussen Mnangagwa en Chamisa kan wees. Indien nie een van die kandidate ‘n volstrekte meerderheid het nie, sal ‘n tweede rondte verkiesing op 8 September plaasvind.  Inwoners van Galeshewe buite Kimberley het aangedui dat die protesoptrede in die stad voortgaan. Inwoners het gister opnuut strate met brandende bande versper. Hulle eis dat die hof raadslede se aansoek toestaan sodat die burgemeester van die Sol Plaatje munisipaliteit, Mangaliso Matika, uit sy amp verwyder kan word. Hulle hou vol dat hul eise nie polities-gemotiveerd is nie. Verlede week is ‘n wantrouemosie teen Matika ingestel wat ook deur die ANC gesteun is, maar hy weier om sy amp te verlaat.

Die nasionale studentefinansieringskema – NSFAS – het erken dat aansoeke vir aanstaande jaar opgeskort is hangende ‘n opdrag van die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Naledi Pandor. Pandor sê die agterstand in uitbetalings vir 2017 en 2018 moet eers uitgewis word. Die woordvoerder van NSFAS, Kagisho Mamabolo sê die minister is bekommerd oor of die skema in staat is om die aansoekproses vir aanstaande jaar doeltreffend deur te voer. Mamabolo sê die raad en die minister is van mening dat agterstallige prosesse eers afgehandel moet word.

‘n Werksessie is gister in Kaapstad gehou oor die voorkoming en bekamping van mensehandel ter herdenking van die Internasionale Dag teen Mensehandel. Die doel van die werkwinkel was om wyses te vind om onder meer kinderhandel te bekamp. Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, John Jeffrey, het toegegee dat daar nie genoeg data is oor die voorkoms van kinderhandel nie. Die organiseerders sê dit is ‘n misdaad wat al meer toeneem, ook wêreldwyd. Die werkwinkel is aangebied in samewerking met die Europese Unie en die Verenigde Nasies se sentrum oor Dwelms en Misdaad.

Die Gautreinoperateur – Bombela – sê werkers se salariseise is nie volhoubaar nie en sy aanbod op die tafel van 8-komma-6-persent in die huidige ekonomiese situasie is uiters rojaal. Die woordvoerder vir die Gautrein, Kesagee Nayager, sê om ‘n verhoging van 10-persent wat werkers eis, te betaal, sal nie net onverantwoordelik wees nie, maar is ook nie volhoubaar nie. Werkers het gister begin staak nadat onderhandelings oor ‘n verhoging en ander byvoordele verlede week ‘n dooiepunt bereik het. Treinpendelaars tussen Pretoria en Johannesburg asook die O. R. Tambo Lughawe word erg geraak, omdat slegs ‘n beperkte diens beskikbaar is, en in sommige gevalle gestaak is weens voorvalle van geweld en intimidasie.

Intussen sal die Gautrein vandag weer ‘n beperkte treindiens beskikbaar hê. Die Gautrein sê op sy Twitterblad dat ‘n treindiens gedurende spitstyd tussen Sandton en die O.R. Tambo Internasionale Lughawe beskikbaar sal wees wat ook by Rhodesfield sal stilhou. ‘n Busdiens op dieselfde roete sal ná spitstyd beskikbaar wees – dus van negeuur vanoggend tot vieruur vanmiddag.

Die Maatskaplike Sekerheidsagentskap, SASSA, het begunstigdes gewaarsku dat die nuwe goue kaart wat uitgereik is vir minstens die volgende twee maande nie by betaalpunte gebruik kan word nie. Die kaart kan egter by kitsbanke, die Poskantoor en winkels gebruik word. Vroeër het sowat 700-duisend van die 12-miljoen ontvangers van toelaes wat die nuwe goue kaart het, gesukkel om hul betalings te ontvang. Die woordvoerder van SASSA, Paseka Letsatsi sê die agentskap en die Poskantoor is gereed om môre uitbetalings te doen.

 

‘n Steenkoolaangedrewe eenheid by Eskom se Arnot-kragstasie in Mpumalanga is buite werking. ‘n Woordvoerder van die kragverskaffer, Khulu Phasiwe het egter berigte ontken dat nog ‘n aantal eenhede by Arnot en minstens twee ander kragstasies buite werking is weens lae steenkoolvoorrade en protesoptrede deur werknemers. Phasiwe het wel bevestig dat stakende werkers by die Arnot-kragstasie verhoed het dat werkers wat nie staak nie vir werk aanmeld. Eskom het gewaarsku dat daar vanaand ‘n groot risiko vir Fase Een beurtkrag is weens die ontwrigtings by kragstasies.

 

Tot vyftien kragopwekkingseenhede by nege van Eskom se kragstasies is volgens berigte buite werking, wat sowat sesduisend megawatt se elektrisiteit raak. Die nuusagentskap Reuters sê dit is vervat in ‘n interne dokument wat vandag aan senior personeel gestuur is. Eskom het vroeër gewaarsku dat daar ‘n hoë risiko van Fase Een beurtkrag is tydens die spitstyd vanaand. Volgens die dokument wat Reuters gesien het is vier eenhede by die Arnot-kragstasie buite werking. Eskom het vroeër gesê dat slegs een van die ses eenhede by Arnot buite werking is. Redes vir die eenhede wat buite werking is, sluit glo die voortslepende staking en lae steenkoolvlakke in. Eskom het vroeër bevestig dat werkers wat nie staak nie verhoed is om vir werk by die Arnot-kragstasie aan te meld. Die kragverskaffer het verbruikers gevra om dringend elektrisiteitverbruik te verminder.

Die Minister van Polisie, Bheki Cele het in Kimberley aangekom om dringend in te gryp by die geskil tussen die gemeenskap en die Sol Plaatje-munisipaliteit. Gemeenskapslede betoog en versper paaie in Galeshewe. Hulle eis dat die uitgesette burgemeester van die munisipaliteit, Mangaliso Matika sy amp ontruim. Die polisie het vroeër vandag weer rubberkoeëls gebruik om betogers uiteen te jaag. Cele gaan na verwagting met die premier, Sylvia Lucas vergader. Sommige skole in Kimberley het ouers opdrag gegee om hulle kinders by die huis te hou te midde van vrese van geweld.

Die weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – mooiweer tot warm

Min 13 Max 26

Nelspruit –  mooiweer tot baie warm

Min  14 Max  32

Pretoria –  mooiweer tot warm

Min 18  Max 23

Johannesburg – mooiweer tot warm

Min 14 Max 22

Vereeniging – regstreeks n sonnige dag

Min 13 Max 24

Rustenburg – mooiweer tot warm

Min  13 Max  26

Bloemfontein – koud in die oggend en n warmer namiddag

Min  5  Max  20

Kimberley – koel in die oggend met matig warm in die namiddag

Min  7  Max 22

Durban –  mooiweer tot matig warm

Min  17 Max 23

Oos London – mooiweer tot  warm

Min  15 Max 21

Upington –     mooiweer en sonnig

Min  9 Max 19

Kaapstad –  bewolk met verspreide tot swaar reen  plek plek

Min  13 Max 17

Port Elizabeth –   mooiweer tot matig warm in die namiddag

Min 14  Max 18

En laastens

Sutherland – regstreekse koue dag

Min  6 Max 13


 

Leave a Reply