Potgooi Nuus en weer 31 JUlie 2018

Potgooi Nuus en weer 31 JUlie 2018

Nuus en weer Weeksdae om 9h30 Aangebied deur Yolanda

Klik HIER om weer te luister

Nuus

Inwoners van Galeshewe in Kimberley waarsku dat hulle van vandag af die hoofstad van die Noord-Kaap tot stilstand gaan bring. Dit volg nadat die polisie gister rubberkoëls gebruik het om die inwoners uitmekaar te jaag by `n vergadering oor wat hulle nou te doen staan. Die gemeenskap is ontstoke dat die burgemeester van die Sol Plaatjie munisipaliteit, Mangaliso Matika, nie sy kantoor wil ontruim nie. ANC-raadslede het verlede week die DA se mosie van wantroue in Matika gesteun en hy is uitgestem. Matika sê egter die raadsvergadering was nie geldig nie, en die ANC in Noord-Kaap sê die party sal hom tot die howe wend om Matika as burgemeester te behou. Die gemeenskapsleier, Tumelo Mosikare, sê die gemeenskappe van Galeshewe, Kimberley en Sol Plaatje het besluit om die stad tot stilstand te bring tot daar aan hule eise gehoor gegee word.

Werknemers van die Gautrain begin vandag staak ter ondersteuning van salariseise. Die hoofsekretaris van die United National Transport Union, Steve Harris sê onderhandelinge het weer vasgeval en werkers sal van vandag af staak totdat daar aan hul eise voldoen word. Die maatskappy bied ‘n verhoging van agt komma vyf persent aan, terwyl die vakbond ‘n verhoging van tien persent eis. Werkers eis ook winsdeling en toelaes vir behuising en vervoer. Die Gautrein bied `n beperkte diens aan wat om kwart voor ses begin. Pendelaars word aangeraai om alternatiewe vervoer te gebruik.

Die Universiteit van Kaapstad het bekend gemaak dat die dekaan van die fakulteit van Gesondheidswetenskappe, Professor Bongani Mayosi, aan die einde van verlede jaar probeer bedank het. Hy het in sy bedankingsbrief geskryf dat die fakulteit `n beter leier verdien. Dit was na die FeesMustFall-betogers Mayosi se fakulteit vir twee weke beset het. Die visekanselier van die universiteit, Mamokgethi Phakeng, sê die besluit oor Mayosi se versoek sou Vrydag geneem word. Sy sê hulle was op die punt om die besluit te onderteken toe hulle van sy dood verneem het. Phakeng sê dit is jammer dat die universiteit nie vroeër na hom geluister het nie. Volgens Phakeng, bied sy dood egter die universiteit die geleentheid om werkers met depressie en ander probleme by te staan.

Die Zimbabwiese president, Emerson Mnangagwa, het terug gekap nadat oudpresident Robert Mugabe gesê het hy sal nie vir die regerende ZANU-PF stem nie omdat hulle hom te veel pyn besorg het. Mugabe sê sy enigste opsie is om vir Nelson Chamisa van die MDC te stem. Mnangagwa sê `n stem vir Chamisa is eintlik maar `n geheime stem vir Robert Mugabe.

Die passasierspooragentskap Prasa het die beweerde stelselmatige sabotasie van treindienste in die Wes-Kaap veroordeel en sê dit bereik nou krisisvlakke. `n Woordvoerder van Prasa, Nana Zenani, sê bykans 210 miljoen rand se skade is sedert 2015 in die Wes-Kaap aangerig. Vanjaar is 33 treinwaens deur vadalisme vernieting. Verlede week is 12 treinwaens in afsonderlike voorvalle in Retreat en Kaapstad uitgebrand. Zenani sê Prasa doen sy bes om voorrade op te bou, maar die Wes-Kaapse treindiens word tot die uiterste beproef. Sy sê dit lyk nie meer net na vandalisme nie, maar na `n stelselmatige veldtog teen Prasa en Metrorail se eiendom. Volgens haar is dit besig om openbare vervoer in die Wes-Kaap te vernietig.

Die dodetal op Wes-Kaapse paaie die naweek het tot 13 gestyg, na twee botsings gisteraand. In die een voorval is vyf mense dood in ‘n botsing tussen ‘n motor en ‘n vragmotor op die pad tussen Van Rhynsdorp en die Van Rhynspas aan die Kaapse weskus. Drie volwassenes en twee kinders is in die voorval dood. Twee mans is ook ernstig beseer en is hospitaal toe geneem vir behandeling. Die insittendes van die vragmotor is nie beseer nie. In nog ‘n voorval is die bestuurder van ‘n bakkie dood nadat sy voertuig omgeslaan het naby Karweiderskraal tussen Botrivier en Hermanus in die Overberg.

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee sal vandag sy laaste lekgotla vir 2018 by die St Georges-hotel in Irene buite Pretoria hou. Die beraad begin vanoggend en duur twee dae. Dit is een van twee soortgelyke lekgotlas wat die ANC jaarliks hou om om die regering se uitvoering van sy verpligtinge te beoordeel. Die lekgotla sal die swak ekonomiese groei bespreek en maniere om die armes teen die stygende brandstofprys te beskerm. Die beraad word bygewoon deur die NUK-lede, ANC-ligas, alliansievennote, kabinetsministers en hul adjunkte, die burgemeesters van die metros en hul munisipale bestuurders, sowel as bestuurshoofde van staatsinstellings. President Cyril Ramaphosa sal die lekgotla open.

Brandbestryders in Kalifornië in Amerika spook steeds om die hewige bosbrande onder beheer te probeer bring wat reeds die lewens van minstens ses mense geëis het. Onder die slagoffers is twee brandbestryders asook ‘n 70-jarige vrou en haar twee agterkleinkinders wat sy probeer red het. Bykans die helfte van die inwoners van Redding, met sy bevolking van 90-duisend, moes uit die gebied vlug. Talle mense word steeds vermis en honderde huise en voertuie het in die slag gebly. Die Weerdiens sê die grootste probleem is die onvoorspelbaarheid van die brande, wat steeds oor ‘n groot gebied tussen Texas en Oregon voorkom en reeds langer as ‘n week woed.

 

‘n Voormalige veiligheidspolisieman, die 80-jarige Joao Rodrigues het in die Johannesburgse landdroshof verskyn in verband met die dood van die apartheidsaktivis, Ahmed Timol in die sewentigerjare. Die Nasionale Vervolgingsgesag het gister bevestig dat ‘n verdagte vandag in die hof gaan verskyn op aanklagte van moord en regsverydeling in die Timol-saak. Rodrigues het verlede jaar in die geregtelike ondersoek na Timol se dood getuig. Die Pretoriase Hooggeregshof het verlede jaar ‘n uitspraak van 1972 ter syde gestel waar bevind is dat Timol selfmoord sou gepleeg het toe hy by die destydse John Vorster-polisiehoofkwartier by ‘n venster uitgespring het. Borgtog van tweeduisend rand is aan Rodrigues toegestaan.

  Die Zimbabwiese president, Emmerson Mnangagwa het sy tevredenheid te kenne gegee met die vreedsame verloop van die verkiesing. Stemlokale het vanoggend landwyd om seweuur geopen en duisende kiesers sal vir ‘n nuwe leierskap stem. Mnangagwa en sy vrou, Auxillia het hulle kruisies by die Sherwood laerskool in Kwekwe getrek waar hy met inwoners gepraat het wat by die stemlokaal oornag het. Mnangagwa sê kiesers se gedrag is ‘n praktiese bewys van die nuwe demokratiese bestel in Zimbabwe.

Sommige werkers in die Mangaung Metro in Bloemfontein het nie hulle salarisse ontvang nie nadat die munisipaliteit se internetbediener ingegee het. Die bediener is reeds twee weke lank buite werking, wat beteken dat geen geld ingevorder kan word nie. Die president van SAMWU, Pule Molalenyane, het sy skok oor die situasie uitgespreek en eis ‘n dringende vergadering met die munisipale bestuur.

 

Die drukgroep AfriForum sê hy sal ‘n privaatvervolging instel indien die Nasionale Vervolgingsgesag versuim om die oudpresidentsvrou van Zimbabwe, Grace Mugabe, te vervolg. Dit volg nadat die landdroshof in Johannesburg beslis het dat die besluit deur die destydse Minister van Internasionale Betrekkinge om diplomatieke immuniteit aan Mugabe toe te staan, ongrondwetlik was. Sy is daarvan beskuldig dat sy ‘n model, Gabriella Engels, en nog twee mense in Augustus in ‘n Johannesburgse hotel aangerand het. Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, het hulle standpunt duidelik gestel.

kole om Kimberley in die Noord-Kaap is gesluit weens dreigemente deur betogende inwoners van Galeshewe wat dreig om die stad tot stilstand te bring. Die Departement van Onderwys het besluit om meer as 70 skole te sluit. Betogers wat buitebande aan die brand gesteek en van die paaie in Galeshewe blokkeer, wil hê die uitgesette burgemeester, Manaliso Matika, moet sy kantoor ontruim. Matika is verlede week tydens ‘n wantrouemosie in die Sol Plaatjeraad uitgestem maar weier om pad te gee. ‘n Woordvoerder van die Departement van Onderwys, Geoffrey van der Merwe, sê daar was ook voorvalle waar leerders en onderwysers geïntimideer is. Van der Merwe het ouers gevra om hulle diskresie te gebruik voordat hulle hulle kinders môre weer skooltoe stuur.

Die Lions het goeie nuus ontvang terwyl hulle gereedmaak om na Nieu-Seeland te vertrek vir Saterdag se Superrugby eindstryd teen die Crusaders in Christchurch. Die Springbokvleuel, Amphiwe Dyantyi, wat ‘n puik drie in verlede naweek se halfeindronde wedstryd teen die Waratahs in Johannesburg gedruk het, is fiks verklaar om saam te gaan Nieu-Seeland toe. Hy het die veld in die tweede helfte met ‘n dyspierbesering verlaat. Die losvoorspeler, Cyle Brink, is ook op die vliegtuig nadat hy die halfeindronde weens ‘n armbesering misgeloop het. Die Lions speel Saterdag in hulle derde agtereenvolgende eindstryd.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – mooiweer tot warm

Min  11 Max 25

Nelspruit –  bewolk tot warm met verspreide reen buie

Min  13 Max 25

Pretoria – sonnige dag

Min  17  Max 24

Johannesburg –       mooiweer tot warm

Min  15 Max 23

Vereeniging – sonnige dag

Min  14 Max 24

Rustenburg –  mooiweer tot warm

Min  12 Max 25

Bloemfontein –  koel in die oggend  en matig warm in die namiddag

Min 8  Max 23

Kimberley –  mooiweer tot warm

Min 9 Max 26

Durban –  gedeeltelik bewolk tot warm

Min 19 Max 23

Oos London – bewolk tot warm

Min  16 Max 23

Upington –     mooiweer tot warm

Min 9 Max  26

Kaapstad – gedeeltelik bewolk met verspreide reen buie   

Min 12 Max 15

 

Port Elizabeth –   mooiweer tot warm

Min 14  Max 20

En laastens

Sutherland – bewolk en regstreekse koie dag

Min  4 Max 12

Leave a Reply